Vreesloos vorentoe – Dag 10
Vreesloos vorentoe: Omdat God goed is
Bybelteks(te)
PSALMS 136
Aan sy liefde is daar geen einde nie
PSALMS 100
[Die afgelope tyd het verskeie lesers getuig oor wat God in hulle lewens gedoen het. Hier is uittreksels uit ʼn paar e-posse.]
Leser 1, Mauritz: “Vyf jaar gelede was ek werksaam by ʼn groot internasionale firma toe ʼn groep van ons oor die November/Desember tydperk afgelê word. Dit was ʼn skok vir ons almal. Ek het ʼn keuse gehad om by ʼn nuwe firma te gaan werk óf my eie ding te doen en het daarom ʼn klomp CV’s uitgestuur.
Terwyl ek weer oor die saak gebid het, het die woorde in Mattheus 14:22 een oggend vir my uitgestaan met hierdie woorde duidelik in my gedagtes: ‘Klim uit die boot (die veilige vaste omgewing) en loop op die water (geen logiese ondersteuning) na Jesus toe. Kyk vas in sy oë en moenie oogkontak verloor nie. Vertrou absoluut op Hom en moenie toelaat dat golwe (die ekonomiese toestande) of die donker water (vrae oor hoe ek op my eie sou bestaan) jou onderkry nie. Moet ook nie terugkyk na die boot (veilige werksomgewing) nie. Hou net vir Jesus dop in totale afhanklikheid en jy sal nie sink nie.’
Ek het my eie besigheid begin as ʼn onafhanklike besigheidskonsultant. Vandag is dit vyf en ʼn half jaar later en ek werk steeds vir myself met een werknemer en ek verdien meer as wat ek by die groot internasionale firma verdien het. Dít is die waarde om daagliks oogkontak met Jesus te behou. Hy bly die hoofvennoot in my besigheid.”
Leser 2: “Toe ek uitvind dat my man ontrou aan my was, het dit my bykans verpletter. Ek kan egter vandag getuig dat God my die krag gegee het om volkome te vergewe — en ook te vergeet. Dit is vandag 10 jaar later en as ek terugkyk weet ek dat met jou hand in Jesus sʼn, enigiets moontlik is. Dit was die beste ding wat ek kon doen. Ons as gesin is in eenheid en kan saam verkondig dat ons Pa die Koning is. Dit is alles net genade!”
Leser 3: “Nadat ek die gedeelte van ‘Ek sal self’ gelees het (Maandag, 8 Junie, 2015), het ek besef dat die boodskap vir my en my man is. Ons het die laaste ruk alles self probeer doen en beleef tans ʼn krisis aangesien ons nie God in ons planne geken het en Hom toegelaat het om ons te lei nie. Van vandag af gaan ons dit verander. Terloops, ons het twee klein kindertjies. Hulle is 21 maande en 3 en ʼn half jaar oud. As ek dink hoe ek voel as ek hulle net wil help as hulle alles ‘self’ wil doen, kan ek dink hoe God moet voel as Hy ons wil help en ons wil ‘self’ ”.
Leser 4, Cathari-Ann: “Verlede Desember het ek vir my seun, Christopher, in London gaan kuier. My wens was om sneeu te sien aangesien ek dit nog nooit beleef het nie. London was koud, maar daar was geen sprake van sneeu nie. My seun het vir ons ʼn ‘road trip’ Skotland toe beplan. Aangesien sy lisensie verval het en ons ʼn motor gehuur het, moes ek bestuur. Hy het die adres in sy selfoon se GPS ingevoer en ons het vertrek — met hom as navigator.
Ons het ʼn groot gedeelte op die snelweg gebly en in ʼn stadium het die GPS-aanwysings ons van die snelweg af geneem. Alhoewel dit vir Christopher nie sin gemaak het nie, het ons tog die roete gevolg. Na sowat 50 km was my seun redelik ontsteld omdat dit ʼn ‘country road’ en nie ʼn hoofpad was nie. Ons wou net omdraai toe ons skielik in ʼn sneeubedekte omgewing inry. Ek het net daar gestop, uit die motor gespring en in ʼn plaas se landery ingehardloop. My hart het gejuig, want ek het geweet dit was ʼn geskenk van God omdat Hy my hartsbegeerte geken het! Ons het vir die res van ons reis nooit weer sneeu gesien nie.”
God is ʼn goeie Pa vir ons elkeen. In Psalm 136:1 skryf die psalmdigter: “Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie.” En in Psalm 100:5 lees ons: “… die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.” God wil ons lei wanneer ons wysheid nodig het in die werkplek, Hy wil ons in staat stel om te vergewe en vergeet omdat Hy weet dat ons in die proses vry word. Hy wil ons lei en help, al sê ons ook soms ek sal “self”. Hy wil sy goedheid aan ons kom openbaar deur ons diepste hartsbegeertes ʼn werklikheid te maak. Wanneer laas het jy Hom geloof en geprys omdat Hy goed is vir jou? Sterkte.