Vreesloos vorentoe – Dag 4
Vreesloos vorentoe: Met vreugde in jou hart
Bybelteks(te)
NEHEMIA 8
1 TESSALONISENSE 5
PSALMS 118
ʼn Blik spinasie is al wat die animasieheld, Popeye, benodig om binne ʼn paar sekondes van ʼn gewone matroos in ʼn man met ʼn besondere sterk voorarm te verander wat sy vyande op die vlug laat slaan. Dit is dus te verstane dat ʼn vyand wat Popeye wil aanval sal seker maak dat daar geen spinasie in die omtrek is nie.
Vreugde in ons lewens is dieselfde soos spinasie vir Popeye. Dit is ons krag wat ons ook help om perspektief te behou selfs in die mees uitdagende situasies. Dit herinner ons dat God almagtig is en ook in staat is om alles ten goede te laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet (Romeine 8:28).
In Nehemia 8:11 moedig Nehemia die terneergedrukte Israeliete aan om nie hulle vreugde te verloor nie: “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here — dit is julle beskutting”. In die Engelse Bybelvertaling lees ons dat die vreugde wat ons in God vind ons krag is. Wanneer ons dus ons vreugde verloor word ons nie net kragteloos nie; ons beweeg ook uit onder die beskutting van God wat ons ʼn maklike teiken vir die vyand maak.
Hoe steel die vyand ons vreugde? Satan ken ons swak punte en val ons dáárop aan. Hy wil ons bekommerd en vreesagtig maak en ons laat glo dat die slegste op pad is. As jy byvoorbeeld iemand is wat sukkel met ʼn minderwaardigheidsgevoel, sal hy jou laat glo dat jou kollegas wat in ʼn kring staan en gesels en lag oor jou skinder — terwyl hulle dalk nie eens oor jou praat nie. Of jy maak die koerant oop en lees oor grondhervorming, korrupsie of moord en meteens bekommer jy jou dood oor jou en jou kinders se toekoms in ons land. Of jy voel siek en die dokters stuur jou vir toetse. Nog voor die uitslae gekom het, verwag jy die ergste en deel jou vrese met almal om jou terwyl jou vrees groter word en die vreugde in jou lewe al minder.
Hoe herstel ons die vreugde? In 1 Tessalonisense 5:16 lees ons: “Wees altyd bly.” Vreugde is ʼn keuse en nie ʼn gevoel nie. Ons moet dus daagliks kies om gelukkig te wees. Hoe doen ons dit te midde van ʼn donker situasie? Ons begin doelbewus soek na dinge waarvoor ons steeds dankbaar kan wees en ons begin God daarvoor dank. Nog ʼn manier is om God se karaktereienskappe neer te skryf en dit te oordink. Só word ons opnuut bewus van sy almag en vermoë om vir ons ʼn deurbraak uit ons krisis te bewerkstellig om, soos die psalmdigter in Psalm 118:24, te kan sê: “Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees.”
Hoe lyk die vreugdevlakke in jou hart vandag? Kom ons tel die blik spinasie op deur vreugde wat ons in God vind ʼn prioriteit in ons lewens te maak. Hiermee klim ons nie net terug onder die beskutting van God nie; ons kry ook ʼn voorarm soos Popeye sʼn waarmee ons die vyand ʼn oorveeg kan gee wanneer hy weer naby aan ons probeer kom om ons leed aan te doen. Sterkte.