Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Vreesloos vorentoe – Dag 3

Vreesloos vorentoe: Met vrede in jou hart

Bybelteks(te)

FILIPPENSE 4

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

NUMERI 6

26die Here sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee!

2 TESSALONISENSE 3

Seën

16Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle almal wees!

2 TESSALONISENSE 3:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al ʼn baksteenhuis met stene sonder sement probeer bou? Of ʼn koek sonder bakpoeier probeer bak? Die bakstene vir die huis kan opmekaar gestapel word, maar sonder sement sal dit inmekaartuimel sodra iemand daarteen stamp. Net so kan jy al die regte bestanddele bymekaargooi om die koek te bak, maar sonder bakpoeier gaan die koek nie rys nie en daarom ʼn mislukking wees.

In ons lewens kan vrede met die sement of bakpoeier vergelyk word. Sonder vrede word ons oneffektief in ons dagtaak. Buiten dat dit konstant voel of iets of iemand ons jaag, is ons makliker ongeduldig met diegene naaste aan ons terwyl ons sukkel om goeie besluite te neem omdat ons nie perspektief het nie. Net soos die bakstene inmekaarstort sonder sement, en die koek flop sonder bakpoeier, so sal dinge in ons lewens ook inmekaarstort en misluk as die vrede nie betyds herstel word nie.

Hoe verloor ons vrede? Dit gebeur maklik. Byvoorbeeld, ʼn stadige bestuurder voor jou in die verkeer, swak diens wanneer jy haastig is of ʼn onbeskofte kollega by die werk. As mens nie hierdie strikke wat die vyand stel betyds raaksien nie, sal dit jou gou onderkry. Nog ʼn manier om jou vrede te verloor, is wanneer jy begin tob oor ʼn krisis of uitdaging in jou lewe waaraan jy niks kan doen nie en dan die ergste verwag.

Hoe kry ons vrede terug? Paulus skryf in Filippense 4:6-7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” In Numeri 6:26 lees ons: “Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.” En in 2 Tessalonisense 3:16 lees ons: “Mag die Here, die Bron van vrede, self altyd en op elke manier vir julle vrede gee.”

Ervaar jy vrede in jou hart, of sit jy met ʼn onverklaarbare hol kol op jou maag of ʼn irritasie wat net nie wil verdwyn nie? Kry die bakpoeier en sement in plek deur vrede ʼn prioriteit in jou lewe te maak. Gesels met God oor jou bekommernisse en vra Hom om dit weg te neem terwyl Hy jou hart kom vul met daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek kan jou waarborg — jy gaan met ʼn baie rustiger hart deur die dag gaan! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS