Vreesloos vorentoe – Dag 5
Vreesloos vorentoe: Omdat God voorsien
Bybelteks(te)
LUKAS 12
EFESIËRS 3
Dit was ʼn gewone uitsaaidag vir my as radio-omroeper by Radio Tygerberg 104fm toe ek die SMS van Johanna op die ateljee se SMS-lyn lees. Johanna, ʼn enkelma wat op ʼn plaas langs die N2 buite Kaapstad werk, het vertel dat haar seun, Jason, goed in rugby presteer. Die uitdaging was egter dat sy rugbytoks te klein was en dat sy nie ʼn nuwe paar vir hom kon bekostig kort voor die rugbyproewe nie. Johanna het vertel dat dit haar hart breek om te sien hoe haar seun by die huis sit omdat hy te skaam is om vir iemand te sê waarom hy nie ook soos die ander seuns vir die proewe voorberei nie. Ek het die SMS met die luisteraars gedeel en gou was daar heelwat mense wat ʼn bydrae wou lewer sodat ons vir Jason nuwe rugbytoks kon koop.
Ek het vir Johanna en Jason na die ateljee genooi vir die oorhandiging. In die regstreekse onderhoud het ek vir Johanna gevra om my en die luisteraars van die dag te vertel wat sy die SMS ingestuur het. Ons het nie tyd gehad om vooraf hieroor te gesels nie, so alles wat sy vertel het, was vir my ook nuus.
Johanna het vertel dat sy daardie oggend in die badkamer gestaan het. Uit moedeloosheid het trane oor haar wange gestroom. Hoe sou sy haar seun kon help? In die badkamer het sy op haar knieë gegaan en vir God gevra om vir hulle te voorsien. Meteens het sy ʼn visie voor haar gesien van swart, wit en rooi rugbytoks. Sy het instinktief geweet dat dit ʼn manier van God was om haar te herinner dat Hy vir hulle sal voorsien. Sy het Hom gedank, haar gesig gewas en die badkamer verlaat. In haar hart het sy ʼn dringendheid ervaar om aan ons ʼn SMS te stuur, en sy het.
In die ateljee het ek afgebuk na die sak vol geskenke vir Jason. ʼn Waterbottel, ʼn splinternuwe rugbybal, ʼn sportsak en dan die boks met nuwe rugbytoks. Jason se droomstewels het in die boks gelê wat hy oopgemaak het — soos in Johanna se visie was die toks rooi, wit en swart. Ons het dit nie geweet nie, maar God het en Hy het ons gelei om sy goedheid en guns opnuut op dié manier aan ʼn jong seun te openbaar.
In Psalm 24:1 herinner die psalmdigter ons dat alles in die wêreld aan God behoort. Hy kan daarom aan ons gee wat ons benodig wanneer ons dit benodig. Dit is dus te verstane dat Jesus in Lukas 12:24 ook sê: “Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls.” God kan en wil vir ons voorsien — en ons ook kom verras met iets ver beter as wat ons kan bid of dink. In Efesiërs 3:20-21 lees ons immers: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe …”
Wat is jou behoefte vandag? ʼn Baba? ʼn Huweliksmaat? Genoeg geld om jou rekeninge te betaal? ʼn Werksgeleentheid? Of dalk ook iets soos rugbytoks? Gesels met God daaroor en los dit dan daar terwyl jy Hom by voorbaat begin dank. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Wil jy Hom nie ook ʼn kans gee om dit aan jou te bewys nie? Sterkte.