Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Vreesloos vorentoe – Dag 2

Vreesloos vorentoe: Waarom om nié te vrees nie!

Bybelteks(te)

JOHANNES 10

10'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

JOHANNES 10:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOB 3

25Wat ek gevrees het, het oor my gekom;

waarvoor ek bang was, het my getref.

2 TIMOTEUS 1

7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

2 TIMOTEUS 1:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die vroeë oggendure van 2 Mei 2011 het ʼn spesiale eenheid van die Amerikaanse vloot, bekend as NAVY Team 6, die wegkruipplek van terreurleier Osama Bin Laden in Abbottabad, Pakistan, per helikopter bereik. ʼn Strategiese aanval is uitgevoer en veertig minute later het die span die terrein met Bin Laden se lyk in ʼn sak verlaat.

Vir ʼn dekade lank is elke moontlike leidraad om Bin Laden op te spoor opgevolg en rolspelers naby aan hom is gearresteer en ondervra. Die deurbraak het egter in Augustus 2010 gekom toe ʼn telefoonoproep van een van Bin Laden se boodskappers onderskep is. Die boodskapper se selfoonsein is gevolg en het die spesiale eenheid na Bin Laden se skuilplek gelei. Hierna is moderne tegnologie ingespan om die wegkruipplek dop te hou. ʼn Identiese afbeelding van die skuilplek is in Amerika gebou waarin NAVY Team 6 vir die beplande aanval geoefen het. Toe die tyd gereed was, is die aanval geloods. Berekend. Strategies. Suksesvol.

Satan is ons vyand. Net soos die Amerikaners Bin Laden se wegkruipplek dopgehou het, hou die vyand ons ook dop. In Johannes 10:10 lees ons: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes …” Satan se aanvalle op ons lewens is ook strategies en fyn beplan. Hy wil ons tref waar dit die meeste sal seermaak in die hoop dat ons God sal blameer.

Job is immers ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Hy het ʼn mooi huis gehad, baie besittings, ʼn groot familie en boonop ʼn wonderlike verhouding met God. Satan het niks daarvan gehou nie. Wat hom veral frustreer het, was dat sy aanvalle op Job nie gewerk het nie, omdat God ʼn muur van beskerming rondom hom, sy familie en ook sy besittings geplaas het (Job 1:10). Daar was egter een swak punt: Job het gevrees dat sy familie of be­sittings iets sou oorkom. Job moes daaroor gepraat het, want toe Satan ʼn geleentheid kry om Job se geloof te toets, het hy hom geslaan waar dit hom die seerste sou maak. In Job 3:25 lees ons Job se woorde nadat hy alles verloor het: “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.”

Watter vrese koester jy in jou lewe? Is jy uitermate bang dat jou kinders iets sal oorkom of dat jou huweliksmaat ontrou aan jou sal wees? Of dalk dat jy en jou gesin in ʼn motorongeluk betrokke gaan wees of dat jou besigheid bankrot verklaar gaan word? Besef jy dat die vyand sy ore spits? In 2 Timoteus 1:7 lees ons: “God het ons nie ʼn gees van vreesagtig­heid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Ook in die tweede gedeelte van Johannes 10:10 sê Jesus self dat Hy gekom het sodat ons ʼn lewe in oorvloed kan hê.

Wanneer ons toelaat dat vrees in ons lewens groter word as ons geloof in God, word ons ʼn maklike teiken vir die vyand. Behou dus jou fokus deur jouself (en die vyand) te herinner dat God die laaste sê in elke situasie het. En wanneer Hy ʼn muur van beskerming rondom jou geliefdes en besit­tings plaas, kan geen brandpyle van die vyand jou raak nie.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS