Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Vreesloos vorentoe – Dag 20

Vreesloos vorentoe: Met die leeu op hok

Bybelteks(te)

JOB 3

25Wat ek gevrees het, het oor my gekom;

waarvoor ek bang was, het my getref.

HEBREËRS 4

Die woord as swaard

12Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

HEBREËRS 4:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 56

4Die dag as ek bang word,

vertrou ek net op U.

5In God, wie se woord ek prys,

in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.

Wat kan 'n blote mens aan my doen?

PSALMS 56:4-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Paar jaar gelede het ʼn leeumannetjie vroegoggend uit die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes ontsnap. Hy het vermoedelik uitgekom deur onderdeur die heining te kruip nadat water ʼn gat daar oopgespoel het. Aangesien die park deur privaat boere se plase omring word, het die landboukantoor in die distrik boere gevra om lig te loop en nie hul werksmense in die veld te laat werk totdat die leeu gevang is nie.

Kan jy vir jouself indink hoe die boere en werkers in daardie omgewing moes voel? Ek is seker hulle ore was heeldag — en veral snags — gespits vir enige geluid wat moontlik soos ʼn leeu kon klink. Omdat niemand geweet het waar die leeu was nie, kon hy óf ver óf baie naby gewees het. Juis hierom is dit te verstane dat vrees konstant in heelwat mense in die omgewing se onderbewussyn geheers het. Ek bedoel, verbeel jou jy hang buitekant wasgoed op of braai saam met die gesin op die stoep en meteens is daar ʼn oorverdowende brul reg langs jou — terwyl die leeu met sy slagtande na jou gluur!

Wanneer ons nalaat om ons vrese met God te bespreek, word dit soos hierdie vermiste leeu. Dit bly in ons onderbewussyn terwyl ons ore gespits is vir “daardie brul” — in ons huwelik, in die werkplek, in ons finansies of selfs ons gesondheid. Wat ons egter vergeet is dat wanneer ons konstant die ergste verwag en daaroor tob, dit soos die water word wat ʼn gat onder die heining oopspoel vir die leeu om uit te kom om ons te kom teister. In Job 3:25 sê Job immers: “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.”

God het geweet dat ons soms deur die leeus in ons eie lewens geteister kan word. Juis hierom het Hy by voorbaat aan ons toerusting gegee om hulle hok te slaan. In Hebreërs 4:12 lees ons: “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante …” God se beloftes staan vas en Hy verander nooit nie. Dit is ook met sy Woord as ons swaard wat ons die vrese, twyfel en ongeloof in ons lewens afweer. Wanneer ons dus ʼn leeu hoor brul in die vorm van vrees wat ons wil oorweldig, kan ons soos die psalmdigter in Psalm 56:4-5 sê: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.”

Kom ons bring ons vrese vandag in geloof na God terwyl ons op sy Woord staan. Só pak ons klippe voor ons heinings wat sal verhoed dat water die heining oopspoel vir die leeu om uit te kom om ons te kom teister. Kom ons beweeg vreesloos vorentoe met die wete dat God nie net die leeus op hok kan hou nie, maar totaal kan wegneem omdat Hy almagtig is. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS