Vreesloos vorentoe – Dag 19
Vreesloos vorentoe: Met God se beskerming
Bybelteks(te)
PSALMS 121
My hulp kom van die Here
PSALMS 121
PSALMS 91
[Die afgelope tyd het verskeie lesers getuig oor God se beskerming in hulle lewens. Hier is ʼn uittreksel uit een van die e-posse.]
Rudolf: “Op 30 April hierdie jaar is ek en my vrou, rondom vyfuur die middag, op die plaas waar ons buite Weenen in KwaZulu-Natal woon, deur vyf gewapende rowers oorval. Hulle het ons een hond geskiet, ons vasgebind en die huis ingeneem. Hier het hulle ons teen ʼn muur laat staan terwyl hulle ons heeltyd vloek en skel en dreig om ons te vermoor.
Die rowers het my vuurwapens en ons winkeltjie se voorraad geld uit die kluis verwyder. Hierna het hulle my vrou met ʼn mes teen haar keel na ʼn ander kamer geneem terwyl ʼn pistool teen my nek gehou word. Al wat ek kon doen was om te bid. Ek het God gevra om ons te vergewe, te beskerm en te kalmeer. Ook dat Hy die beheer van die situasie sal oorneem. Ek dink soms ons onderskat die krag wat lê in die Onse Vader-gebed. Wanneer ons God aanroep hoor Hy.
Die rowers het my vrou na my teruggebring. Ek het na haar gedraai en gesê: ‘Maak nie saak wat gebeur nie, ons sal mekaar nog vanaand in die hemel vashou.’ Van daardie oomblik af was dit asof iets in die atmosfeer begin bedaar. Die rowers het ons selfs met meer respek begin behandel. Nadat hulle in die huis rondgesoek het vir geld en niks gekry het nie, het hulle ons agter in ons eie motor gelaai met die gesteelde items bo-op ons. Ná ʼn rit van sowat 45 minute het hulle in die veld gestop.
Ek het gedink dat hulle ons hier sou vermoor. In stede daarvan het die rowers die motor met lappe afgevee, die toue waarmee ons vasgebind was losgemaak, my beursie met bankkaarte, bestuurslisensie en selfs my geld daarin vir my teruggegee en my vrou voorin die motor gehelp. Hierna het hulle na my gekyk met die woorde: ‘Mr Niemand, please go.’ Ons was vry om te gaan. Hulle het selfs vir ons die pad terug verduidelik!
Ons het teruggekeer huis toe sonder enige liggaamlike skade. Ook ons hond wat geskiet was het oorleef. Na dié gebeurtenis bestaan daar absoluut geen twyfel by my dat God almagtig en goed is nie. Hy hoor wanneer ons na Hom roep en Hy is dáár. Sy liefde vir ons is groot. Alle eer aan Hom!”
Rudolf is reg. Nie een van ons is gevrywaar van uitdagings soos hierdie wat ons pad mag kruis nie. Ons leef in ʼn gebroke wêreld en die vyand soek na maniere om ons seer te maak en aan te val. Tog lees ons in Psalm 121:1-5,7-8: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie. Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare … Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.” Ook in Psalm 91:11 lees ons: “Hy (God) sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.”
God sluimer of slaap nie. Sy arm is vir seker ook nie te kort om ons te help en sy oor nie te doof om ons gebede te hoor nie. Ek sal nie verbaas wees as die plaashuis op Weenen daardie nag met engele gevul was die oomblik toe Rudolf na God begin roep het nie. Kom ons kyk doelbewus in die vervolg weg van die vrese in ons lewens en herinner onsself dat wanneer ons God se Naam aanroep in ons oomblikke van nood, Hy daar is — reg om ons te beskerm. Sterkte.