Vreesloos vorentoe – Dag 21
Vreesloos vorentoe: Omdat God ons dra
Bybelteks(te)
PSALMS 23
JAKOBUS 5
[Ek eindig die reeks met ʼn paar lesers se getuienisse.]
Leser 1, Martie: “Op pad Rustenburg toe om by my ouers te gaan kuier, het ek vir ʼn veilige rit gebid. Daarna het ek ʼn gospel-CD aangesit en saam met die musiek gesing. Kort duskant Marikana is daar ʼn gedeelte van die pad met ʼn afgrond van bykans 20 meter waar daar geen veiligheidspale langs die padskouers is nie. Voordat ek by dié gedeelte van die pad gekom het, het ek gesien dat ek ʼn bietjie oor die spoedgrens is. Ek het dadelik my spoed verminder. ʼn Groot trok het by my verby gejaag. Die trok was skaars verby my toe ʼn stuk staal van bykans 2 meter van die vragmotor losbreek en met sulke sirkelbewegings reguit op my en my motor afpyl. Alles het geweldig vinnig gebeur. Meteens was die stuk staal onder my motor in die voorband en het my stuurwiel regs geswaai wat veroorsaak het dat my motor reguit op die afgrond afgepyl het. Ek kon nie rem trap nie aangesien motors van links en regs aangekom het. Al wat ek kon doen was om kliphard te roep: ‘Here, help my!’
Meteens het ek ʼn stemmetjie gehoor wat vir my sê: ‘Pluk jou stuurwiel na links.’ Ek het dit gedoen en my motor het op die rand van die afgrond tot stilstand gekom. Dit was so naby aan die rand dat ek beswaarlik uit my motor kon klim.
Ek weet dat God saam met my in die motor was. Hy het my beskerm. Ek loof en prys sy wonderlike Naam!”
Leser 2, Christa: “My jongste seun se vrou is swanger met hulle derde baba. Hulle het hul eerste seuntjie op 30 weke weens genetiese afwykings verloor. Hulle tweede seuntjie is daarna in Julie 2013 volmaak en gesond gebore. Met die tweede sonar van die huidige swangerskap het dit gewys dat die ongebore baba se armpies en beentjies misvorm is en dat die baba moontlik Down-sindroom kan wees.
Op 12 Junie 2015 is daar weer ʼn sonar gedoen, vrugwater getrek en verskeie ander toetse is gedoen. Ons het ʼn gebedsketting begin en gebid vir volkome genesing. Gister het hulle die eerste uitslae gekry wat wys dat die baba normaal is! Volgens die dokter behoort die res ook normaal te wees aangesien die belangrikste toets teruggekom het. Ek het net weereens besef dat ons ʼn lewende, liefdevolle God en Vader aanbid. Alle eer kom Hom toe!”
Leser 3, Leon: “Op 9 April vanjaar het my trok langs die N3 naby die Tugelarivierbrug gebreek. Rondom tweeuur die oggend wou ek vir ʼn paar minute slaap voordat die werktuigkundige opdaag. Ek is egter deur drie gewapende mans met vuurwapens oorval. Hulle het die trok se ruite uitgeskiet en my teen ʼn heuwel op beveel. Dáár moes ek my in ʼn kombers toerol terwyl hulle telkemale vuurwapens teen my kop, nek en onder my keel gedruk het.
Ek het op my knieë gaan sit met my hande bo my kop en deur my trane het ek hulle gesmeek om my nie te skiet nie. Ek het opgekyk na die hemel en gemerk dat die wolke baie laag was. In daardie breukdeel van ʼn sekonde het ek gewonder of die skoot deur my kop of rug sou trek en of ek dadelik sou dood wees. Ek het in God geglo, maar ek was nie seker dat as ek sou sterf of my saak met Hom reg was nie.
Die rowers het al my persoonlike besittings, insluitende my selfoon en klere gevat. Hulle het selfs my (1933-vertaling) grootdruk Bybel in my tas gevat wat my vrou ʼn maand vantevore vir my op my 50ste verjaarsdag gekoop het. Hulle was onder die indruk dat dit ʼn skootrekenaar was.
Net toe ek dink dit is klaar met my het die werktuigkundige van die trok opgedaag en met ʼn skerp lig teen die heuwel geskyn. Dit het die rowers verwilder en my lewe gespaar.
Vandag weet ek dat God dáár was om my te beskerm. Hy het aan my ʼn tweede kans gegee om geloofsekerheid te kry. Ek volg Hom nou volkome met ʼn rustigheid in my hart.”
Die lesers is reg. Met God aan ons kant kan ons vreesloos vorentoe beweeg omdat Hy ons dra. In Psalm 23:4 lees ons: “Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie.” Ook in Jakobus 5:16 lees ons: “Die vurige gebed van ʼn regverdige het groot krag.” Kom ons draai ons oë na God in elke moeilike situasie en herinner onsself dat Hy baie nader aan ons is as wat ons dink — en soms is die uitdagende of vreesagtige situasies daar om ons net weereens daarvan bewus te maak. Sterkte.