Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Vreesloos vorentoe – Dag 15

Vreesloos vorentoe: Met positiewe gedagtes

Bybelteks(te)

EFESIËRS 6

11Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.

EFESIËRS 6:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

EFESIËRS 6

17Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

EFESIËRS 6:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 12

2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

ROMEINE 12:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 4

8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

FILIPPENSE 4:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

In ʼn stadium was Rory McIlroy die wêreld se beste gholfspeler. Dit was egter nie altyd die geval nie. Op 10 April 2011 was die 22-jarige gholfspeler op die laaste dag van die Amerikaanse Meesterstoernooi in Augusta met vier houe die voorloper en gunsteling om te wen — sy eerste groot gholftoernooi. Stres en spanning het egter die oorhand gekry. Rory het sy konsentrasie verloor en dit reggekry om die swakste rondte in die geskiedenis van die toernooi te ewenaar. Dit was só ʼn openbare vernedering dat talle sportkommentators gewonder het of McIlroy ooit sou herstel.

Twee maande later het McIlroy sy kritici verras en die Amerikaanse Ope-gholftoernooi met ʼn rekord van 16 houe onder baansyfer gewen. Dié keer het hy die gholfwêreld in vervoering gehad terwyl sportkommentators na hom as die nuwe “Tiger Woods” van die gholfarena begin verwys het.

Wat het McIlroy gehelp om terug te veg na die skokkende nederlaag op Augusta? Hy het hierdie vraag in ʼn artikel soos volg geantwoord: “Ná Augusta het ek met ʼn paar mense gesels en besef dat ek op die dag heeltemal te gefokus was. Alles het oor daardie laaste rondte gegaan. Ek het daarmee gaan slaap en opgestaan. Ek het konstant daaraan gedink — wat verkeerd kon loop. Dit het my totaal angstig gemaak.”

Vandag is McIlroy se strategie heeltemal anders: “Ek skakel af na elke hou wat ek gespeel het en gesels met my gholfjoggie oor die nuustste fliek wat ek gekyk het of ʼn sokkerwedstryd. Eers wanneer ek die bal nader om die volgende hou te speel sal ek weer begin fokus. Dan is daar nie tyd om te dink aan wat verkeerd kan loop of vir negatiewe gedagtes of twyfel wat my kan beetpak nie. Al waarvoor ek tyd het, is om die hou te oorweeg wat gespeel moet word, my gholfstok uit my sak te trek, te visualiseer waarheen dit moet gaan en dan die hou te speel.”

McIlroy se woorde het my laat besef dat ons daagliks, net soos professionele sportlui, in die strik kan trap om te gefokus te raak op wat potensieel verkeerd kan gaan. Só raak ons angstig en begin leef ons in vrees. In Efesiërs 6:11 herinner Paulus ons om daagliks die wapenrusting aan te trek: “Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.” En dan in Efesiërs 6:17: “Sit verlossing as helm op.” Ook in Romeine 12:2 lees ons: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” En in Filippense 4:8 gee Paulus die volgende raad vir ons gedagtewêreld: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is — watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees — daarop moet julle julle gedagtes rig.”

Laat jy toe dat negatiewe gedagtes jou oorweldig of kan jy reeds in jou geestesoog in geloof sien hoe God jou huwelik herstel, julle in staat stel om julle eie huis te bekostig, hoe die dokter jou gesond verklaar, hoe jy twee strepies op die swangerskaptoets sien na jare se gebede of hoe jy eindelik in die paadjie afstap op jou troudag na die besonderse man wat God vir jou uitgekies het?

Wat ons visualiseer vir ons lewens (positief of negatief) word mettertyd ons werklikheid. Ons kan dus óf soos McIlroy op Augusta die swakste rondte in die geskiedenis ewenaar óf ons kan ʼn toernooi wen met ʼn rekord van 16 onder baansyfer! Sterkte!

Bible Society of South Africav.4.27.6
VOLG ONS