Vreesloos vorentoe – Dag 14
Vreesloos vorentoe: Omdat God dit moontlik maak
Bybelteks(te)
2 KORINTIËRS 12
JESAJA 41
[Hier is ʼn paar getuienisse van ons lesers oor die jare.]
Leser 1, Rika: “Ek is in die IT-bedryf en het ʼn tyd gelede voorgestel dat ons ons stelsel na ʼn ander verskaffer moet migreer. Dit is ʼn groot proses en hoe verder ons gevorder het, hoe meer gekompliseerd het dit geraak — en hoe meer benoud het ek geword. Ek het baie hieroor gebid en op ʼn dag ervaar dat God vir my sê: ‘Niks is vir My te groot nie.’
Ek het uit my kantoor gestap tot op die stoep buitekant. Dáár het ek die hele projek opnuut in God se hande geplaas. Terug in die kantoor het ek vir my kollegas gesê ek weet dat alles suksesvol sal verloop omdat ek dit in God se hande oorgegee het. Van daardie dag af het ek rustigheid oor die projek. Dit is steeds ʼn hengse projek, met moontlike uitdagings, maar dit is nie meer vir my ʼn doring nie. Inteendeel, my gemoedstoestand het soveel verbeter dat my voorgee op die gholfbaan sommer verlaag het! Prys die Here, want Hy is Almagtig.”
Leser 2, Shivonn: “Hoewel ek reeds in 2009 my bestuurslisensie geslaag het, het ek ʼn geweldige groot vrees vir motorbestuur gehad. Soms sou ek sommer op die pad in trane uitbars uit blote vrees. Dit was so erg dat ek begin dink het dat ek nooit die vrees sou oorkom nie.
Verlede maand het ek en my man vir my ʼn motor gekoop en ek het begin ry. Vandag was die eerste dag dat ek self werk toe gery het en ek voel soos ʼn oorwinnaar! Ek besef nou dat met God aan my kant, kan ek enige vrees oorkom!”
Leser 3, Precious: “ʼn Tyd gelede het ek desperaat na ʼn permanente werksgeleentheid met ʼn hoër inkomste begin soek. Met my inkomste by my tydelike werksgeleentheid kon ek net-net my rekeninge betaal.
Op ʼn dag blaai ek deur die koerant en sien ʼn beskikbare werksgeleentheid in my veld — met ʼn goeie salaris. Ek het dadelik die advertensie uitgesny, vir die pos aansoek gedoen en toe die advertensie teen my kas geplak. Elke keer wanneer ek dit gesien het, het ek gebid dat God vir my guns sal gee sodat ek die werk sou kry.
ʼn Paar weke later het ek meteens vir geen rede my tydelike werk verloor. Ek was geskok. ʼn Week later het ek egter ʼn oproep gekry van die maatskappy by wie ek aansoek gedoen het wat my vir ʼn onderhoud genooi het. Ek was nog op pad huis toe na die onderhoud toe hulle my bel en vra of ek daardie volgende Maandag kon begin werk. Ek kon nie ophou om God te prys nie!
Vandag weet ek dat God ons voetstappe rig. As ek nie my tydelike werksgeleentheid verloor het nie, sou dit vir my moeilik gewees het om vir die nuwe werk se onderhoud te gaan aangesien die twee maatskappye ver uitmekaar uit is. God het dus geweet dat ek eers die werk moes verloor sodat ek vry kon wees om die nuwe hoofstuk in my lewe te kon begin. God is getrou en ek prys sy Naam!”
Leser 4, Tina: “Ek en my man is amper 10 jaar getroud. Vir 8 jaar hiervan het ons gesukkel om swanger te word. Ons het baie gebid, moed opgegee, gebid, en op die ou end net vergeet daarvan. Ek het ook gebid dat God my die wilskrag sou gee om op te hou rook.
Toe gebeur die wonderwerk: Ons vind uit ek is swanger (nou 10 weke) en terselfdertyd kan ek nie meer die reuk van rook verdra nie! God het ingegryp en sommer met een slag beide my gebede beantwoord. Alle eer kom Hom toe!”
Die lesers is reg. Wanneer ons swak is, is God sterk. In 2 Korintiërs 12:9 sê Hy self: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” En in Jesaja 41:10 sê God: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”
God maak ons rustig wanneer ʼn uitdaging in die werkplek ons wil oorweldig. Hy stel ons in staat om ʼn vrees te oorkom wat ons keer op keer in trane laat uitbars. Hy maak soms een deur toe sodat Hy ʼn veel beter een vir ons kan oopmaak en al wag ons soms ʼn dekade lank vir ʼn antwoord op ons gebede, kan ons weet dat God se tyd altyd perfek is. Sterkte.