Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Vreesloos vorentoe – Dag 16

Vreesloos vorentoe: Ten spyte van dorings

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 12

7selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

2 KORINTIËRS 12:7-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

[Een van die lesers skryf ʼn tyd gelede: “Hoekom neem dit so lank as ʼn mens vir God iets vra? Ek is al 8 jaar geskei en bid al amper so lank vir iemand om lief te hê en iemand wat my sal liefhê. Ook iemand wat lief is vir God en wat sal goed wees vir my twee seuns. Bid ek verkeerd? Dit voel soms vir my asof God van my vergeet het en daar niemand vir my is nie.”]

Wat is die doring of dorings in jou gemoed? Vir bogenoemde leser is dit eensaamheid. Ek is seker die doring steek veral seer wanneer sy ʼn gelukkige paartjie sien, hoor van ʼn vriendin wat ʼn goeie man ontmoet het of wanneer haar twee seuns in situasies verkeer waar hulle dringend ʼn pa-figuur vir leiding en ondersteuning benodig.

Dorings in ons lewens is egter nie altyd negatief nie. Soms is dit juis daar om ons op ons knieë en naby aan God te hou. Paulus het dit besef. In 2 Korintiërs 12:7-9 skryf hy: “… sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ʼn doring in die vlees gegee, ʼn boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees …”

Soms neem God die doring vinnig weg deur aan die eensame ʼn maat te gee, deur die siekte te genees of deur die ongelowige huweliksmaat of kind tot inkeer te bring. Ander kere neem dit ʼn bietjie langer. En soms, soos vir Paulus, neem God nie die doring weg nie omdat dit juis ʼn spesifieke doel dien en ons naby aan Hom hou.

Sê ek dat God bogenoemde leser se doring van eensaamheid nie gaan verwyder nie? Hoegenaamd nie. God is op ʼn unieke reis met ons elkeen. Hy weet wat ons kan hanteer en wat nie, en Hy weet wanneer dit die regte tyd is om ons dorings te verwyder. Wat ek wel weet is dat dorings ons dryf om weer voor ons God te kniel sodat ons sy krag en teenwoordigheid kan beleef. Dit stel ons in staat om sy stem weer te hoor. Wanneer ons dus aanhou om naby aan Hom te bly, sal ons beleef hoe ons dorings wat ons aanvanklik met trane van frustrasie gelaat het, verander in monumente waarop ons terugkyk met ewige herinneringe saam met God omdat ons besef dat Hy deurentyd by ons was.

Ons tyd op aarde is kort. Dit is ʼn geleentheid om God beter te leer ken en meer soos Jesus te word. Kom ons leef dus met die wete dat die krag van Christus ons beskutting is en kom ons prys God — of Hy die doring verwyder of nie. As ons dit kan doen word ons waarlik vry. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS