Vreesloos vorentoe – Dag 13
Vreesloos vorentoe: Sonder aanstoot
Bybelteks(te)
SPREUKE 18
Slappap is al wat my dogtertjie, Joalé, elke oggend wou eet toe sy klein was. Een oggend was ons effens laat en terwyl ek die pap aanmaak, het ek ʼn bietjie meer sout as wat nodig was in die pot gegooi. Daar was te min tyd om die pap van vooraf te maak. Ek het gedink dat die pap nie te sleg smaak nie, maar Joalé het egter net ʼn paar happe geëet voordat sy met ʼn frons die bordjie aan my teruggegee het — duidelik ontevrede met die smaak van die pap.
Die volgende paar oggende het ek egter tevergeefs vir Joalé slappap gemaak. Al was dit dié keer perfek en al het ek selfs ʼn bietjie suiker oorgegooi om dit meer aanloklik te maak, wou sy niks weet nie. Sy wou nie eens daaraan proe nie!
Een oggend besluit ek toe dat ek vir oulaas die pap vir haar sal maak bloot omdat ek weet hoe baie sy daarvan gehou het. As sy dit weer nie wou eet nie, sou ek dit vir goed wegpak. Ek het die pap gemaak en dit in ʼn bordjie voor haar neergesit. Sy wou nog protesteer toe ek op die ingewing van die oomblik die lepel vat, ʼn klein bietjie van die pap daarop skep en dit in haar mond sit sodat sy dit kon proe. Vir ʼn oomblik was dit stil. Ek het ʼn tranedal verwag, maar in stede daarvan het ʼn glimlag verskyn met die woorde: “Nog, asseblief, Mamma”. Daardie oggend het Joalé sommer twee borde slappap geëet.
In ons lewens het ons ook soms slegte ervarings. Ons kry seer wanneer ʼn romanse of vriendskapsverhouding eindig. Ons kry seer in die huwelik wanneer ons huweliksmaat onsensitief optree. Of ons neem aanstoot in die kerk of in die werkplek wanneer iemand ons teleurstel of met hul woorde seermaak. Net soos my dogtertjie, na een slegte ervaring, nie meer van haar gunstelingpap wou eet nie, begin ons ook mure om ons bou en onsself isoleer in ʼn poging om nie weer telleurstelling te ervaar of seer te kry nie.
Aanstoot weerhou ons egter van God se beste vir ons lewens. Luister maar na die woorde in Spreuke 18:19: “ʼn Mens kan nie maklik inkom in ʼn stad wat sterk mure het nie, ook nie in ʼn paleis wat ʼn sluitbalk aan die poort het nie. Jy kan ook nie maklik praat met ʼn broer wat kwaad is vir jou omdat jy iets verkeerd gedoen het aan hom nie” (Die Bybel vir almal).
Is jy vandag soos daardie stad met sterk mure rondom jou? Onthou, vergifnis bring vryheid in ons lewens. Dit breek die mure af en stel God in staat om sy beste vir ons te gee. Een romantiese verhouding het dalk nie uitgewerk nie, maar God beplan dalk vir jou iemand wat veel beter by jou pas. Jou huweliksmaat het dalk onsensitief opgetree en jou seergemaak, maar deur hom of haar nou keer op keer te probeer “terugkry”, versuur jy jou eie lewe. Een vriendskap het dalk geëindig, maar solank jy jouself isoleer gaan jy nooit die veel beter vriende en vriendinne ontmoet wat God oor jou pad wil stuur nie. En solank jy God blameer vir die mense in die kerk wat jou teleurgestel het, gaan jy nooit sy teenwoordigheid in jou lewe kan ervaar soos wat Hy vir jou bestem het nie.
God het vir ons planne van voorspoed en nie teëspoed nie. Die psalmdigter sê dat goedheid en guns ons sal volg al die dae van ons lewens. Die bordjie besonderse lekker pap is opgeskep. Dit staan voor jou. Kom ons breek af ons mure — anders gaan ons nooit proe hoe lekker dit smaak nie. Sterkte!