Vreesloos vorentoe – Dag 12
Vreesloos vorentoe: Met sterk wortels
Bybelteks(te)
PSALMS 92
JOHANNES 4
HEBREËRS 13
Wanneer laas het jy ʼn palmboom bestudeer? Dit is een van die sterkste bome wat ons het. Dit kan in dorre, droë omgewings oorleef omdat die wortels van die boom diep in die grond groei na die naaste water. Dit bly ook staande te midde van ʼn orkaan wanneer sommige ander bome wortel en tak uit die grond geruk word. Hoe? Die palmboom is geskep met die vermoë om om te buig. Dit kan byna horisontaal met die grond buig sonder om te breek. Sodra die storm verby is, kom die boom bloot weer regop. Sterker. Met dieper wortels. As mens kyk na videogrepe van palmbome in ʼn orkaan, lyk dit selfs of hulle dans in die storm.
Soms gaan ons deur dorre, droë tye in ons lewens waarin dit voel asof God van ons vergeet het. Ons bid, maar dit voel asof ons gebede nie beantwoord word nie omdat ons nie dadelik ʼn verandering in ons situasies beleef nie. Of ons gaan deur orkaansterkte storms in ons lewens in die vorm van ʼn egskeiding, dood, finansiële verlies, siekte of ʼn onregverdige aflegging by die werk. Dié seisoene in ons lewens skep ʼn geleentheid vir ons wortels om dieper in die grond te groei terwyl ons God se aangesig soek.
In Psalm 92:13 lees ons: “Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon.” Ook in Johannes 4:14 sê Jesus dat Hy die lewende water is: “… wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ʼn fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” En in Hebreërs 13:5b sê God: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
Beleef jy tans droë of stormagtige tye in jou lewe? Kom ons strek ons wortels na die Een wat ons dors vir ewig les en kom ons herinner onsself dat God die stormwinde kan stilmaak en dat ons ook, nadat ons omgebuig het, weer kan regop kom. Sterker. Met dieper wortels en nader aan God. Inteendeel, ons kan soos die palms dans in die storm met die wete dat ons nie alleen is nie. Sterkte.