Vreesloos vorentoe – Dag 11
Vreesloos vorentoe: Omdat God jou uit enige donker put kan trek
Bybelteks(te)
PSALMS 40
JEREMIA 32
DANIËL 3
[Op ʼn dag ontvang ek het ʼn e-pos van ʼn leser wat skryf: “My hart voel absoluut dood. Geen emosie; net ʼn hart wat klop.”]
Is dit hoe jy vandag voel? Probeer jy met al jou krag vorentoe beweeg, maar dit is asof ʼn onsigbare muur jou stuit? Of dalk probeer jy die verlede terugdraai sodat jy jou vorige besluite kan verander, maar ook daar is ʼn muur wat jou keer? En om dinge te vererger, voel dit asof jy in ʼn modderige put staan met mure wat die lewe en vreugde finaal uit jou pers?
Dít is hoe Sadrag, Mesag en Abednego moes gevoel het toe hulle voor die vuuroond staan. Hulle het vir God standpunt ingeneem deur nié voor die afgode te buig nie, maar nou het hulle die dood in die gesig gestaar. Ook Abraham en Sara. Hulle het God se belofte vir ʼn baba vertrou, maar hulle was reeds verby die ouderdom waarop dit menslik moontlik was om kinders te hê.
Wat is die krisis wat jou verlam en verhoed om vorentoe te beweeg? ʼn Ongelowige huweliksmaat? ʼn Finansiële krisis wat ál erger word? ʼn Siekte? Slegte nuus wat jou tot in jou wese ruk? ʼn Krisis by die werk waarvoor jy verantwoordelik gehou word? Of dalk die verlies van ʼn geliefde?
In Psalm 40:2-4 herinner die psalmdigter ons daaraan dat God ons uit enige donker put kan trek: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ʼn rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my ʼn nuwe lied in die mond gelê, ʼn loflied vir ons God.” En in Jeremia 32:27 sê God self: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?”
Sadrag, Mesag en Abednego het nie geweet of hulle die vuuroond sou oorleef nie. Toe koning Nebukadnesar hulle konfronteer omdat hulle nie voor sy beeld buig nie, het hulle nogtans geantwoord: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie” (Daniël 3:17-18). Omdat die drie mans nie hulle geloof in God verloor het nie, het hulle beleef hoe Hy hulle sonder ʼn geskroeide haar uit die vuuroond red. En omdat Abraham en Sara nooit hul rug op God se belofte vir ʼn kind van hul eie gedraai het nie, het Hy aan hulle ʼn baba gegee.
Wat is die wonderwerk waarvoor jy bid? Laat vaar jou vrees en twyfel dat God van jou vergeet het. Hy het nie. Dalk is vandag die dag wat Hy na jou afbuig, jou uit die put trek en op ʼn rots laat staan sodat jy Hom kan loof en prys vir jou deurbraak. Gaan jy aanhou om Hom daarvoor te vertrou? Sterkte.