Bible Society of South Africa
Neville Turley

Volhard in Jesus Christus – Dag 8

Gee om vir jou arm familielede

Bybelteks(te)

SPREUKE 16

24Aangename woorde is heuning,

soet en geneeskragtig vir die mens.

SPREUKE 16:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 25

45En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’

MATTEUS 25:45AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons woon in ʼn global village. Die wêreld het gekrimp. Tans huisves Suid-Afrika baie mense van buurlande. Mans en vroue wat moes vlug van streng regerings en oorloggeteisterde gebiede opsoek na ʼn veiliger heenkome in Suid-Afrika.

Almal het ʼn behoefte aan welwillendheid en bystand. Ons moet probeer help waar ons kan, want xenofobie vorm nie deel van Christenwees nie. Koning Jesus sal eendag sê: “Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie” (Matteus 25:45).

Maar kom ons maak dit ʼn bietjie meer persoonlik. Een ding wat die meeste families in gemeen het, is arm familielede. Dit gaan nie ewe voorspoedig met almal nie. Sommige familielede is arm omdat hulle miskien vroeg in hulle lewens verkeerde keuses gemaak het en nie die gevolge daarvan kan dra nie. Ander is dalk arm as gevolg van omstandighede buite hulle beheer.

ʼn Man het eenkeer vir my vertel van sy onsteltenis toe hy gehoor het dat sy een broer al sy besittings opgegee het en ʼn boemelaar geword het. ʼn Paar maande later was hy, sy kinders en van hulle vriende op pad iewers heen toe hy sy broer langs die pad sien stap. Hy wou graag sy kinders die verleentheid spaar en het toe so vinnig moontlik verby sy broer gery.

Families wat eens ʼn hegte eenheid was kan soms uitmekaar dryf. Die testament van ʼn ouer, oupa en ouma, en oom of tante, kan soms bitterheid en vervreemding tot gevolg hê. Dikwels dryf kinders van een gesin weg van mekaar en word vreemdelinge.

Soms verwelkom jy met opgewondenheid vreemdelinge in jou huis, want miskien, sonder dat jy dit weet, huisves jy engele as gaste. Daar is egter nie groot opgewondeheid wanneer arm familielede aan die deur klop nie want ons weet hulle is definitief nie engele nie. Hulle is dikwels ʼn verleentheid wanneer hulle sonder uitnodiging opdaag.

Die ryk man in een van Jesus se gelykenisse het ongetwyfeld ook so gevoel toe Lasarus voor sy deur gelê het “in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry” (Lukas 16:20). Dit is egter die eindresultaat wat saak maak. Lasarus het hemel toe gegaan en die ryk man het hel toe gegaan. In sy lewe het Lasarus nie baie gevra nie, net welwillendheid en oorskietkos van die ryk man se tafel.

Miskien is daar iemand wat op ʼn stadium aan jou geheg was wat weer van jou wil hoor. Die enigste manier om uit te vind is om na daardie persoon uit te reik. Doen dit nou want môre mag dit dalk te laat wees.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS