Bible Society of South Africa
Neville Turley

Volhard in Jesus Christus – Dag 21

Aan die brand vir die Here

Bybelteks(te)

HANDELINGE 2

2Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.

HANDELINGE 2:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

HANDELINGE 12

24Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen.

HANDELINGE 12:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

HANDELINGE 12

Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem

1In dié tyd het koning Herodes party van die gemeentelede laat vang en hulle mishandel. 2Hy het vir Jakobus die broer van Johannes met die swaard laat doodmaak.

3Toe Herodes sien dat dit by die Jode byval vind, het hy nog verder gegaan en ook vir Petrus gevange laat neem. Dit het tydens die fees van die ongesuurde brood gebeur. 4Nadat Herodes vir Petrus laat vang het, het hy hom in die tronk gesit en hom deur vier afdelings van vier soldate elk laat bewaak. Herodes wou hom ná die paasfees voor die volk bring. 5So is hy dan in die tronk bewaak, maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid.

Petrus word uit die tronk bevry

6Die nag voordat Herodes hom voor die volk sou bring, het Petrus tussen twee soldate geslaap. Hy was met twee kettings geboei, en voor die deur het wagte die tronk bewaak.

7Meteens staan daar 'n engel van die Here en skyn daar 'n lig in die sel. Die engel vat toe aan Petrus se sy om hom wakker te maak en sê vir hom: “Staan gou op.”

Onmiddellik het die boeie van sy hande afgeval. 8Toe sê die engel vir hom: “Maak jou gordel vas en trek jou skoene aan.”

Petrus het dit gedoen, en toe sê die engel vir hom: “Trek jou bokleed aan en kom saam met my.”

9Petrus het agter die engel aan uitgegaan sonder om te besef dat hy werklik bevry word. Vir hom het dit gelyk asof hy 'n gesig sien. 10Hulle is by die eerste wag verby en ook by die tweede, en toe hulle by die ysterdeur kom wat na die stad toe lei, het dit vanself vir hulle oopgegaan. Toe hulle buite kom en 'n ent met die straat af was, het die engel vir Petrus skielik verlaat. 11Toe dring dit tot Petrus deur wat met hom gebeur het en hy dink: nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel gestuur het om my uit die hande van Herodes te red en van alles wat die Joodse volk van plan was om te doen.

12Met dié gedagte is hy na die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem is, waar baie gelowiges saam was om te bid. 13Hy het aan die voordeur geklop, en 'n diensmeisie met die naam Rodé het kom hoor wie dit is. 14Toe sy Petrus se stem herken, was sy so bly dat sy nie die deur oopgemaak het nie, maar binnetoe gehardloop het om te vertel dat Petrus by die deur staan. 15Maar hulle sê vir haar: “Jy is mal.”

Toe sy egter daarmee volhou, sê hulle: “Dan is dit sy gees.”

16Intussen het Petrus aangehou klop. Toe hulle die deur oopmaak en hom sien, was hulle baie verbaas. 17Hy het met sy hand vir hulle gewys om stil te bly en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het.

“Vertel dit vir Jakobus en die ander gelowiges,” het hy gesê en na 'n ander plek toe vertrek.

18Toe dit dag word, was die soldate nie min ontsteld oor wat van Petrus geword het nie.

HANDELINGE 12:1-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

HANDELINGE 12

22Die mense het toe geskreeu: “Dit is 'n god wat praat, nie 'n mens nie!”

23Op daardie selfde oomblik het 'n engel van die Here hom getref, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Herodes is deur wurms verteer, en het gesterwe.

HANDELINGE 12:22-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die apostels was “nuwe” mense nadat die Heilige Gees hulle vervul het. Bekragtig met spesiale gawes om hulle vir hul bediening toe te rus, het hulle begin om wyd te preek en wonderwerke te doen. Duisende mense het tot bekering gekom.

Die hoëpriester, sy volgelinge en die Sadduseërs het die leringe van Jesus heeltemal verwerp. Ten spyte van dreigemente, arrestasies, hofsake en lyfstraf kon hulle egter nie daarin slaag om die apostels te laat ophou om in die Naam van Jesus te preek nie.

Ten spyte van geweldige teenkanting het die woord van God verder versprei en veld gewen (Handelinge 12:24). In hierdie tyd het Herodes Agrippa I koning geword van Palestina. Hy was die eerste koning wat begin het om die Christelike kerk te vervolg. Dié koning het Jakobus om die lewe laat bring en Petrus in hegtenis laat neem.

Petrus was in die gevangenis met kettings geboei en onder swaar bewaking toe ʼn engel wonderbaarlik tot sy redding gekom en hom gehelp het om te ontsnap. Herodes was woedend en het die wagte laat doodmaak (Handelinge 12:1-18).

Herodes het toe besoek ontvang van die mense van Tirus en Sidon vir wie hy baie kwaad was. Hulle wou hom tot bedaring bring want hulle was afhanklik van hom vir hul lewensmiddele. Hy het ingestem om hulle te spreek. Op die bepaalde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en hulle toegespreek. Die mense het hom geprys en geskreeu: “Dit is ʼn god wat praat, nie ʼn mens nie!”

Die Bybel vertel ons dat ʼn engel van die Here Herodes getref het, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Herodes is deur wurms verteer, en het gesterwe (Handelinge 12:22-23).

In die volgende vers in die Bybel lees ons: “Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen” (Handelinge 12:24).

Ten spyte van voortdurende teenkanting, versprei die woord van God vandag steeds. Daar is volgens statistieke ongeveer 2,5 miljard Christene wêreldwyd en die getal neem steeds toe! (Verslag: Johnson, Barrett en Crossing; www.globalchristianity.org). Aan God al die eer!

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS