Bible Society of South Africa
Neville Turley

Volhard in Jesus Christus – Dag 20

Jou rol in God se plan

Bybelteks(te)

EFESIËRS 1

11Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.

EFESIËRS 1:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 16

Die belydenis van Petrus

13Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”

14Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”

15“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

16Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

17“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

20Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

MATTEUS 16:13-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

HANDELINGE 2

41Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg.

HANDELINGE 2:41AFR83Maak oop in die Bybelleser

HANDELINGE 9

40Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”

Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit.

HANDELINGE 9:40AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 1

36Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”

37Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?”

39Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.”

Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.

JOHANNES 1:36-39AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 1

41Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus.

JOHANNES 1:41AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 6

8'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: 9“Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”

JOHANNES 6:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 12

Die tyd van sy verheerliking het gekom

20Daar was ook 'n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. 21Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”

22Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus.

JOHANNES 12:20-22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die lewens van ander herinner ons soms aan God se plan vir ons. Soms is dit miskien nie wat ons vir onsself in gedagte het of wat ons graag wil hê nie, maar dit is die Here se wil vir ons.

Die dissipel Andreas het in die skaduwee van sy broer Simon (Petrus) geleef. Petrus was ʼn man van durf en daad en ʼn gebore leier. God die Vader het aan hom openbaar dat Jesus die Messias is en Hy het vir hom gesê: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou …” (Matteus 16:13-20). Petrus het op die dag van die pinksterfees gepreek en “drieduisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg” (Handelinge 2:41). Petrus het selfs ʼn vrou uit die dood opgewek (Handelinge 9:40). Andreas se bediening was miskien nie so indrukwekkend soos die van Petrus nie, en tog was hy die sleutel tot Petrus se bediening.

Wat het Andreas gedoen? Hy het Petrus na Jesus toe gelei.

Andreas was ʼn volgeling van Johannes die Doper. Johannes het na Jesus verwys as die Lam van God en Andreas en nog ʼn volgeling wat dit gehoor het, het Jesus toe gevolg. Jesus het hulle toe saam met hom genooi en ʼn hele middag saam met Hom spandeer (Johannes 1:36-39).

Onmiddellik daarna het Andreas eers sy broer, Simon (Petrus), gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” (Johannes 1:41). Hy het hom na Jesus toe gebring.

Dit was ook Andreas wat die seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies na Jesus toe gebring het (Johannes 6:8-9).

Toe ʼn aantal Grieke in Jerusalem vir Filippus gesê het dat hulle Jesus wou sien, was dit hy en Andreas wat dit vir Jesus gaan vertel het (Johannes 12:20-22).

Andreas het mense na Jesus toe gelei. Hy was ʼn belangrike deel van God se plan, net soos ons vandag ook is.

Op ons nederige geloofspad mag ons miskien persoonlik mense na Jesus Christus toe lei of dit indirek doen deur ʼn Bybel vir iemand beskikbaar te stel. Tussen die blaaie mag hulle Jesus dalk leer ken.

Wat ʼn voorreg om ʼn Christen te wees en die evangelie met ander te kan deel.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS