Bible Society of South Africa
Neville Turley

Volhard in Jesus Christus – Dag 19

Sy het gedoen wat sy kon

Bybelteks(te)

MARKUS 14

8Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis.

MARKUS 14

6“Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen.

MARKUS 14

9Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.”

Op ons lewenspad is daar oomblikke waar ons Christelike geloof ons tot aksie aanspoor. So ʼn oomblik het plaasgevind in die lewe van die vrou waarna ons teksvers vandag verwys en die woorde van die teks is die woorde van Jesus self.

Wat ʼn uitsonderlike vrou moes sy nie gewees het nie. In die tyd toe melaatsheid ʼn gevreesde bedreiging was, het sy nie gehuiwer om die huis van Simon die melaatse te besoek nie. Dit moes baie moed geverg het. Die vrou het egter geweet dat Jesus daar was en sy wou aan Hom eer bewys.

Sy gaan die huis binne en vind ons Here Jesus Christus aan tafel. By haar het sy ʼn houer met nardusolie. Nardusolie was ʼn baie skaars en baie duur kommoditeit. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op Jesus se kop uitgegiet; vir sommige ʼn impulsiewe en spandabelrige gebaar.

Party van die mense wat teenwoordig was het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek. Die hoeveelheid nardusolie wat sy uitgegiet het was gelykstaande aan die jaarlikse loon van ʼn werker. Hulle was van mening dat die kosbare reukolie eerder verkoop moes word om die geld aan armes te gee. Haar vrygewigheid en liefdevolle deernis het Jesus egter diep geraak en Hy kom tot haar verdediging: “ ‘Laat staan haar,’ het Jesus gesê. ‘Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ʼn goeie daad aan My gedoen’ ” (Markus 14:6).

Die naam van hierdie vrou is nie vir ons bekend nie. Al wat ons van haar weet is dat sy gedoen het wat sy kon. Jesus sê: “Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ʼn herinnering aan haar” (Markus 14:9).

Jy kan ook die verhaal van hierdie vrou en haar wonderlike daad met ander deel. Een manier om dit te doen is om by die Bybelgenootskap se Bybel-per-Maand Klub aan te sluit en te help om Bybels regoor die wêreld beskikbaar te stel.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS