Bible Society of South Africa
Neville Turley

Volhard in Jesus Christus – Dag 2

Die krag van God se Woord

Bybelteks(te)

JOHANNES 4

46Jesus het toe weer na Kana in Galilea toe gegaan, waar Hy die water wyn gemaak het.

In Kapernaum was daar 'n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was. 47Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. 48Jesus sê toe vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.”

49En toe sê die amptenaar vir Hom: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.”

50Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.”

Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. 51Toe hy nog op pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe. 52Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het, en hulle antwoord hom: “Gistermiddag eenuur het die koors hom verlaat.”

53Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom.

54Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy weer uit Judea na Galilea toe gekom het.

JOHANNES 4:46-54AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan” (Johannes 4:50).

Hoe dikwels het jy al in die kerk gesit of jou Bybel gelees en geweet dat die boodskap spesifiek vir jou bedoel is? Wat was jou reaksie? Ons vers vandag handel oor een man se reaksie op die woorde van Jesus.

Die volle verhaal word in Johannes 4:46-54 vertel. Jesus was in Kana, sowat 40 kilometer vanaf Kapernaum, waar die seuntjie van ʼn regeringsamptenaar op sterwe gelê het. Sy pa het van Jesus gehoor en na Hom toe gegaan. Hy het Jesus gesmeek om na Kapernaum te gaan en sy seun te genees.

Jesus sê toe vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.”

Ware geloof beteken om die krag van God se Woord te erken en ons daaraan te onderwerp. Die regeringsamptenaar sê “kom”, maar die Seun van die Timmerman sê “gaan”.

Die regeringsamptenaar het vir Jesus geglo en gehoorsaam teruggegaan na sy huis toe. Dit was ʼn lang pad vanaf Kana na Kapernaum en hy moes langs die pad oornag. Die volgende dag kom sy werksmense met die goeie nuus dat sy kind lewe en besig is om te herstel. Hy het hulle gevra presies wanneer hy begin beter word het, en hulle het hom geantwoord: “Gistermiddag eenuur het die koors hom verlaat” (Johannes 4:52).

Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” Die Bybel vertel ons dat hy en sy hele huisgesin tot geloof in Jesus gekom het.

Ons kan baie uit hierdie gedeelte oor die krag van die woord van God leer, wat vandag nog net so relevant is as toe. Die Here werk steeds deur die krag van sy woord. God praat steeds met ons deur die Bybel.

Ons Almagtige Here is onveranderlik. Sy boodskap is dieselfde as wat dit 2 000 jaar gelede was. Hy is nog net so naby en toeganklik aan almal wat in hulle nood tot Hom nader – net soos toe Hy ʼn seuntjie 40 kilometer weg genees het.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS