Bible Society of South Africa
Neville Turley

Volhard in Jesus Christus – Dag 15

God laat alles ten goede meewerk

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

ROMEINE 8:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

GENESIS 37

23Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, 24en vat hom en gooi hom in die put. Dit was 'n droë put, sonder water. 25Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar 'n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai.

26Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou? 27Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.”

Juda se broers het na hom geluister, 28en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat.

GENESIS 37:23-28AFR83Maak oop in die Bybelleser

GENESIS 50

20Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het.

GENESIS 50:20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die lewe is nie altyd maklik nie. Soms gebeur dinge wat ons seermaak of ons laat swaarkry. ʼn Ernstige ongeluk, siekte, afdankings, emosionele verraad – hierdie is alles slegte goed wat gereeld met mense gebeur.

In sulke tye is dit normaal om vir God te vra: “Waarom gebeur dit met my, Here?”

Josef het seker ook hierdie vraag gevra. Hy is deur sy broers afgeknou, hulle het sy kleed gevat, hom in die put gegooi, en hy is as ʼn slaaf aan Potifar – die hoof van die farao se lyfwag – verkoop (Genesis 37:23-28). Waar was God tydens hierdie gebeure?

Josef het baie goed gedoen in diens van sy eienaar, maar sy probleme was nog lank nie verby nie. Alhoewel hy heeltemal onskuldig was, is hy vals beskuldig dat hy probeer het om Potifar se vrou te verkrag en hy is in die tronk gegooi.

Dit was eers jare later dat Josef besef het dat God die kwaad wat hom aangedoen is ten goede laat meewerk het sodat die lewens van baie mense gered kon word (Genesis 50:20).

Naas Josef is Moses, Jesaja en Esegiël ook voorbeelde van mense in die Bybel wat baie swaargekry het, maar die Here wou daarmee goed doen. Hy wou hierdie swaarkry ten goede laat meewerk.

Hy werk ook in ons lewens want Hy het ʼn wonderlike plan en doel met elkeen van ons. Soms kan ons egter dit wat met ons gebeur glad nie verstaan nie – en ook nie waarom dit gebeur nie.

Dan is dit juis nodig dat ons meer as ooit op Hom moet vertrou, met die volle wete dat sy liefde en krag ons sal dra totdat ons uiteindelik in sy heerlikheid sal deel.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS