Bible Society of South Africa
Neville Turley

Volhard in Jesus Christus – Dag 14

Ken jou vyand

Bybelteks(te)

EFESIËRS 6

11Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

EFESIËRS 6:11-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

EFESIËRS 2

2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

EFESIËRS 2:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 4

Die versoeking in die woestyn

1Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.

3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”

4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:

“'n Mens leef nie net van brood nie

maar van elke woord

wat uit die mond van God kom.

5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:

“Hy sal sy engele oor jou opdrag gee

“en:

“Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.

7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.

8Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”

10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:

“Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

MATTEUS 4:1-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 12

31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe.

JOHANNES 12:31AFR83Maak oop in die Bybelleser

JAKOBUS 4

7Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.

Toe wyle Hansie Cronjé, oud-kaptein van die Suid-Afrikaanse krieketspan, betrokke was by ʼn groot skandaal oor wedstrydknoeiery het hy sy aandeel daaraan beken. Baie mense het hom uitgelag en bespot oor sy verskoning dat die duiwel hom dit laat doen het.

Die reaksie van mense moes vir Satan seker baie gelukkig gemaak het. Hoe meer daar gespot word met diegene wat glo dat Satan bestaan en aktief besig is in die lewens van mense, hoe beter vir hom. Hy kan voortgaan met sy goddelose aktiwiteite om mense in versoeking te lei om teen God te rebelleer.

Die Bybel openbaar hom as die grootste vyand van God en mens. In Efesiërs 2:2 word daar na hom verwys as “die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.”

Dit is ʼn fout om sy bestaan te ignoreer en ʼn selfs groter fout om die impak en invloed te onderskat wat hy op die lewens van diegene wat jy liefhet kan hê.

Jesus was goed voorberei vir sy ontmoeting met die duiwel (Matteus 4:1-11). Dit was net na sy doop toe die Heilige Gees Jesus die woestyn ingelei het waar Hy vir veertig dae en nagte gevas het.

Daar het die duiwel vir honger Jesus versoek om die klippe in brood te verander en hy het selfs al die koninkryke van die wêreld vir Hom aangebied indien Hy sou neerval en hom aanbid. Die Bybel vertel ons dat die engele gekom en vir Jesus versorg het nadat Hy die duiwel verwerp het.

Satan kom dikwels met sy versoekings na ons in die tye wat ons weerstand op die laagste is. Satan kan ons emosioneel teister en mishandel, maar ons kan weerstand bied want ons vyand is reeds verslaan. Sy krag en heerskappy oor gelowiges is reeds aan die kruis verbreek (Johannes 12:31).

“Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug” (Jakobus 4:7).

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS