Bible Society of South Africa
Neville Turley

Volhard in Jesus Christus – Dag 12

Op pad huis toe – deel I

Bybelteks(te)

HANDELINGE 1

8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

HANDELINGE 1:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

HANDELINGE 1

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.

HANDELINGE 1:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

HANDELINGE 1

6Toe hulle 'n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

HANDELINGE 1:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Op Hemelvaartdag herdenk Christene die feit dat Jesus Christus na die hemel opgevaar het. Sy sending op aarde was voltooi. Hy was op pad huis toe.

Drie-en-dertig jaar voor hierdie gebeure het Hy sy plek aan die regterhand van God die Vader verlaat en Homself verneder deur as mens na die aarde te kom. Hy het geweet dat Hy vir sy lewe hier op aarde moet boet om dit enigsins vir die mensdom moontlik te maak om hulle met God te versoen.

Dit is feitlik onmoontlik om in woorde te beskryf die verskriklike geestelike en fisiese lyding wat Jesus moes verduur van diegene vir wie Hy gekom het om te verlos. Hy is verneder, onregverdig behandel, wreed gestraf en geslaan en het uiteindelik met ondraaglike pyn aan die kruis gesterf.

Jesus was nou, op daardie eerste Hemelvaartdag veertig dae na sy opstanding, uiteindelik op pad huis toe.

Gedurende hierdie veertig dae het Jesus tyd saam met sy dissipels spandeer om hulle onder andere deur sy teenwoordigheid te oortuig dat Hy waarlik die dood oorwin het. Hy het ook met hulle oor die koninkryk van God gesels.

Sy afskeidsopdrag aan hulle was die volgende: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het …” Die geskenk was dat hulle binne ʼn paar dae met die Heilige Gees gedoop sou word. Hulle het nie verstaan wat dit beteken nie. Hulle het vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” (Handelinge 1:6).

Die dissipels het onder die juk van die Romeine geleef en hulle kon nie verder dink as dat Israel van die Romeinse onderdrukking bevry moes word nie. Hulle het geen begrip gehad vir wat die koninkryk van God alles behels nie.

Jesus het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie” (Handelinge 1:7). Alhoewel Jesus nie vir hulle gesê het wanneer Hy terugkom nie, het Hy wel gesê wat hulle moes doen: “… julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Hy Het ook vir hulle gesê dat hulle krag van die Heilige Gees sal ontvang om dit te kan doen.

Nadat Jesus dit vir sy dissipels gesê het, het Hy na die hemel toe opgevaar.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS