Bible Society of South Africa
Neville Turley

Volhard in Jesus Christus – Dag 10

Veertig dae wat die wêreld geruk het

Bybelteks(te)

HANDELINGE 1

3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat.

HANDELINGE 1:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

LUKAS 16

31Maar hy sê vir hom: ‘As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.’ ”

1 KORINTIËRS 15

17En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes.

1 KORINTIËRS 15:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

LUKAS 24

44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.

LUKAS 24:44-45AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vandag nog is daar baie mense wat nie glo dat Jesus fisies opgestaan het nie. In die gelykenis van Lasarus staan: “As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan” (Lukas 16:31).

As Jesus in die graf gebly het, was die Christelike geloof niks anders as ʼn dwaling nie (1 Korintiërs 15:17). Die waarheid is egter dat Christus die dood oorwin het en dat Hy in die veertig dae aan sy volgelinge verskyn het om hulle te oortuig dat dit waarlik Hy is en dat Hy leef. Hy het selfs vir hulle gewys dat sy opgestane liggaam tekens van sy lyding dra.

Hy het hulle van die realiteit van sy opstanding oortuig. Maria Magdalena het Hom herken aan die manier wat Hy met haar gepraat het. Ander het Hom herken toe Hy die Skrif aan hulle uitgelê het en toe Hy die brood gebreek het.

Jesus self het meteens aan die dissipels verskyn terwyl hulle die nuus hoor. Hulle het groot geskrik en gedink hulle sien ʼn gees.

Die Bybel sê hulle was vol blydskap en verwondering – Jesus was werklik in die vlees voor hulle. Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is. Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan” (Lukas 24:44-45).

Jesus het geweet hoe uiters belangrik dit was vir sy volgelinge om waarlik te glo dat Hy uit die dood opgestaan het en dat hulle wat in Hom glo ook uit die dood opgewek sal word.

Diegene wie se moed hulle tydens sy lyding en dood begeef het, het nou weer nuwe moed en rigting gehad. Terwyl die idee om te sterf vir hulle afgeskrik het, soos vir die meeste van ons, het die dood self vir hulle geen vrees meer ingehou nie. Al die apostels (behalwe een) het die dood in die gesig gestaar, maar dit het hulle nie afgeskrik nie.

Bekragtig deur die Heilige Gees en die opgestande Christus het hulle die evangelie, die verhaal van Christus se lewe, sterfte, opstanding en hemelvaart, tot aan die einde van hulle lewens verkondig. Christus het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS