Bible Society of South Africa

Uitgestrekte genade – 1 Maart 2022

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

LUKAS 13

Gelykenis van die onvrugbare vyeboom

6Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: “'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, 7sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’ 8Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. 9Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.”

LUKAS 13:6-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons is almal vrugtebome geplant in God se tuin. Maar ons is waardeloos as ons nie ons Skepper se doel met ons vervul nie. God het die reg om ons en ons geskiedenis van vrug dra, te ondersoek. Hy het die reg om te verwag dat ons vrugte moet dra.

In hierdie gelykenis ondersoek die grondeienaar sy wingerd en ook die vyeboom wat daar geplant was. Dit is vir hom duidelik dat na ‘n aantal jare die vyeboom nooit vrugte gaan dra nie en daarom gee hy die opdrag dat die boom uitgekap moet word.

Mense kan ook soos daardie vyeboom word. Ons kan so vasgevang raak in ons eie lewens dat daar geen vrugte oor is tot voordeel van ander nie. Ons droog op soos ‘n dooie ou boom en al wat oorbly is die lelike takke van kritiek, sinisme en pessimisme.

Wat ‘n skrikwekkende gedagte dat God se eie kinders so kan word. Maar die tuinier het nog hoop: “Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes,” sê hy. Al is ons ook heeltemal dood, Jesus is nog nie klaar met ons nie.

Ek weet dat Jesus nog nie klaar is met my nie. Net soos Jesus uit die dood opgestaan het, so kan lewe na ‘n droë boom terugkeer. Miskien het jy al opgegee met mense – of met jouself. Die tuinier sê: “Laat hom nog hierdie jaar staan.” Begin oor en werk aan jou verhoudings. Bid, bemoedig iemand anders, koester opnuut ‘n vriendskap wat verwelk het. God se uitgestrekte genade omring ons elke dag sodat ons vir Hom kan leef.

Gebed: Here, omring ons met u genade en maak ons nuut. Vervul ons deur u Heilige Gees met nuwe lewe. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS