Hoop en dankbaarheid: Hou op om jouself te vergelyk – 28 Februarie 2022
Deur Charlea Sieberhagen-Grey
Bybelteks(te)
FILIPPENSE 4
Daar is een ding in die lewe wat net erger en erger word soos die tyd aanstap. En die impak hiervan raak net meer negatief: Ons vergelyk onsself gedurig met ander.
As jy baie mededingend is, probeer jy dalk gedurig vasstel hoe jy met ander vergelyk. Is jy op dieselfde posvlak as iemand anders, verdien jy meer of minder, ry jy ’n mooier, nuwer, vinniger motor …
Selfs al is jy nie eers iemand wat baie mededingend is nie, gaan jy nie noodwendig die vergelykingspeletjie vryspring nie. Sosiale media het vergelyking ’n absolute werklikheid in ons lewens gemaak. Jy sien gedurig hoe ander mense rondrits en lekker luuks vakansie hou, of jy sien hoe jou skoolpêlle van jare gelede suksesvolle ondernemings bedryf, pryse wen of bloot fantasties lyk.
Ja, ons vergelyk onsself deesdae met bekendes en hul lang hare, skitterwit tande, mooi velle en geborgde klere.
En as jy dan nog langs ’n braaivleisvuur moet staan en hoor hoe jou vriende keer op keer spog met nuwe huise en groter karre, kan ’n mens nie help om liggies depressief te voel nie. Want kom ons wees nou maar eerlik, dit is nie in vandag se tyd maklik om by te hou met alles en almal nie.
Ek wil hierdie jaar juis probeer om myself minder met ander mense te vergelyk. Dit is gewoon te uitputtend. Die konstante vergelyking met ander laat ’n mens in elk geval net voel of jy nooit goed genoeg is nie, dat jy nooit genoeg het nie. Ek kan nie dink dat God wil hê ons moet gedurig minderwaardig of onvergenoegd voel nie. Dit maak nie sin nie.
Hoe moet ’n mens in elk geval vir God dankie sê vir al jou genadegawes as jy gedurig voel jy het nie genoeg nie? Hoe moet jy die seëninge in jou lewe raaksien en waardeer as jy elke dag voel dit wat jy het, is nie mooi of nuut genoeg nie?
Ek glo dit is presies die teenoorgestelde van wat God vir ons wil hê. Dalk is dit tyd om vanjaar op onsself en ons eie lewenspad te fokus. Dalk is dit tyd om te besef dat dit wat ons het – die doodgewone kar, die eenvoudige huis, die klere in ons kas, heeltemal goed genoeg is. Dit is immers net genade.
Gebed: Liewe Here, help my om myself hierdie jaar minder met ander mense te vergelyk. Help my om met ’n dankbare hart tevrede te wees met die wonderlike genades wat ek elke dag in my eie lewe ervaar. Dankie dat U altyd voorsien. Amen