Bible Society of South Africa

‘n Oop uitnodiging – 17 Maart 2022

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

LUKAS 14

22Later kom die slaaf sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’ 23Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word. 24Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.’ ”

LUKAS 14:22-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het sover hierdie maand telkens God se groot genade in die gelykenisse van Jesus ontdek. Maar op wie stort God hierdie oorvloedige genade uit? Hy het selfs diegene lief wat niemand anders eers sal oorweeg nie.

In vandag se gelykenis antwoord diegene wat na die feesmaal uitgenooi is met flou verskonings. Hulle was meer begaan oor hulle eie sake as oor die uitnodiging van hulle vriend na sy spesiale feesmaal.

Is dit waar van sommige van ons? Wanneer God ons uitnooi na sy groot fees, gee ons Hom die koue skouer? Besluit ons self oor ons agendas en prioriteite en versuim om te luister na wat die Heilige Gees van ons verlang?

Gelukkig eindig die gelykenis nie daar nie. God hou aan om meer gaste uit te nooi totdat al die plekke by sy feesmaal gevul is. Soos ‘n sensuswerker wat oral na elke moontlike burger soek, soek God ook in die stad se strate en stegies waar die ontheemdes en swerwers bly. Hy vertrek dan uit die stad na die afgeleë platteland om ook daar die benadeeldes te gaan uitnooi. Niemand word ongenooid gelaat nie, behalwe diegene wat self hulle name van die gastelys verwyder.

Ons is soos die dienskneg wat die uitnodiging bring. Dit is ons voorreg om na geleenthede te soek om ons naaste en vriende uit te nooi om Jesus te ontmoet. Moet niemand uitlaat op jou uitnodigingslys nie! God laat niemand uit nie.

Gebed: Here, ek loof en dank U vir verlossing en vir die gemeenskap van u kinders. Wys my asseblief vir wie ek kan bid en kan uitnooi om U te ontmoet. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS