Bible Society of South Africa

Die onsigbare vrou – 18 Maart 2022

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

LUKAS 7

44en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom – en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 45'n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. 46My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. 47Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

LUKAS 7:44-47AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die eerste eeuse Joodse kultuur, het vroue in die algemeen baie min regte gehad en is daar van hulle verwag om gesien en nie gehoor te word nie. Selfs in die Evangelies word baie min vroue by die naam genoem.

Die anonieme vrou in vandag se verhaal het ongenooid by Simon se partytjie opgedaag en toe boonop ‘n drama veroorsaak toe sy haar hare in die openbaar losmaak. Dit was ‘n skokkende gebaar wat as verleidelik geïnterpreteer kon word. Haar parfuum het in die lug gehang en haar gehuil het die ongemaklike stilte verbreek.

Jesus het geweet wat Simon dink en daarom vertel Hy ‘n kort gelykenis oor skuld en vergifnis. Toe vra Hy Simon ‘n oënskynlik voor die hand liggende vraag: “Sien jy hierdie vrou?”

Natuurlik het Simon haar nie regtig raakgesien nie. Hy sien al die vrou se aksies, maar slaag nie daarin om te onderskei wat werklik daar voor hom gebeur nie. Jesus verstaan dat hierdie vrou haar diepste gevoelens van dankbaarheid en liefde teenoor God uitstort. Dit is ‘n heilige oomblik van onvoorwaardelike oorgawe en toegewydheid aan God.

Hierdie vraag,”sien jy hierdie vrou?”, weerklink vandag steeds. Ons kies baie keer om neutraal te bly, onpartydig en afsydig wanneer dit kom by die uitdrukking van emosie voor God. So ‘n radikale uitstorting van toegeneentheid teenoor Jesus laat sommige van ons ongemaklik voel, maar is die natuurlike reaksie van ‘n Christen wat vergewe is.

Ons benodig die oë van Jesus om hierdie groot liefde te kan raaksien wanneer ‘n vergeefde sondaar dit aan Hom bewys.

Gebed: Here, help ons om ander se liefde vir U raak te sien en om ons liefde aan U te bewys deur hulle, ter wille van U, te verwelkom en te aanvaar. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS