‘n Aanhoudende pleidooi – 30 Maart 2022
Deur Xanthe Hancox
Bybelteks(te)
LUKAS 18
Die gelykenis van die weduwee en die regter
Hy het vir hulle ‘n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om altyd te bid en nie moed te verloor nie. Hy het gesê: “Daar was ‘n sekere regter in ‘n bepaalde stad, wat nie ontsag vir God gehad het nie en hom aan geen mens gesteur het nie. Daar was ook ‘n weduwee in daardie stad, wat hom bly opsoek het met die versoek, ‘Laat reg aan my geskied in my saak teen my opponent.’ ‘n Tyd lank wou hy nie, maar naderhand het hy by homself gedink: Al het ek geen ontsag vir God en steur ek my aan geen mens nie, sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, tog maar reg aan haar laat geskied; anders gaan sy my tot aan die einde bly teister.” Lukas 18:1-5, 2020-vertaling
In Jesus se tyd was weduwees dikwels baie weerloos, met min regte, niemand om vir hulle voorspraak te maak of om in hulle ouderdom na hulle om te sien nie. Die regter in vandag se verhaal het die mag gehad om aan die weduwee te gee wat regtens hare was, maar hy het geen ontsag vir God se opinie of vir die van ander mense gehad nie.
Alhoewel sy gevoel het of dit ‘n hopelose saak was, het die weduwee aangehou met dieselfde versoek om geregtigheid. Uiteindelik het die regter so moeg geraak vir haar pleidooie dat hy besluit het om in haar guns te beslis.
Jesus het hierdie gelykenis vertel om aan sy volgelinge te bewys “hoe nodig dit is om altyd te bid en nie moed te verloor nie.” Jesus vertel hierdie storie om ons oor God te leer. As die regter in hierdie gelykenis ingee vir die pleidooi van ‘n hulpelose weduwee, hoeveel te meer sal God nie luster na die gebede van sy kinders en hulle verlos nie! Die Here sal definitief hulp verleen aan diegene wat Hom daarvoor vra. Hy gee diep om vir die hulpeloses, die weerloses en die behoeftiges.
Dienooreenkomstig moet ons volhard in die gebed. As die aanhoudende pleidooie van ‘n weduwee ‘n goed-vir-niks regter van mening kan laat verander, kan ons verseker wees dat die Here op ons konstante gebede sal reageer.
Gebed: Here Jesus, dankie dat U vir ons hoop bring in hierdie donker tye waar ons met ons teenstanders worstel. Hoor ons gebed en tree asseblief gou in vir ons. Amen