Gee om te ontvang – 29 Maart 2022
Deur Xanthe Hancox
Bybelteks(te)
LUKAS 16
Soos ons meer as een keer die afgelope maand gesien het, het Jesus dikwels kontroversiële idees en karakters in sy gelykenisse gebruik om die skare se aandag te trek. In hierdie storie word ‘n korrupte finansiële bestuurder soort van die held. Die bestuurder het sy werkgewer se geld verkwis. So, net toe hy op die punt was om sy werk te verloor, het hy begin om die mense wat sy werkgewer geld geskuld het, se skuld te verminder om in hulle goeie boekies te kom.
En toe, onverwags prys die ryk werkgewer die oneerlike bestuurder vir die verstandige manier hoe hy sy probleem hanteer het. Die woord “verstandig” kan ook “slim” of “wys” beteken. Dieselfde woord word gebruik om die verstandige man te beskryf wat sy huis op ‘n rots gebou het. (Matteus 7:24)
Maar hoe kan hierdie bestuurder verstandig wees? Alhoewel hy onbetroubaar is, vind hy ‘n kreatiewe manier om sy eie bas te red deur vrygewig met sy werkgewer se rykdom om te gaan. Op ‘n vreemde manier versterk hierdie gelykenis Jesus se lering: “Gee, en aan julle sal gegee word.” (Lukas 6:38, 2020-vertaling) Die bestuurder het die kliënte se skuld verminder en op die manier probeer om blywende vriende te maak wat hom na sy afdanking sou aanstel of ondersteun.
Op dieselfde manier sal Jesus se volgelinge wat hulle rykdom tot voordeel van ander en ter wille van God se koninkryk aanwend, “in die ewige wonings ontvang” word.
Ons mag dalk dink dat Jesus hier deurmekaar is. Ekonomie leer ons dat ons ons rykdom moet bewaar om êrens te kan kom. Maar deur te gee word ons verstandig en wys en dit verskaf God, aan wie alle rykdom behoort, plesier.
Gebed: Here, u optredes en gedagtes is verhewe bo ons s’n. Skenk asseblief aan ons ‘n gees van vrygewigheid. Help ons om te onthou dat dit beter is om te gee as om te ontvang. Amen