Bible Society of South Africa

Die krag van gelykenisse – 31 Maart 2022

Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

LUKAS 8

Gelykenis van die saaier

4Uit die verskillende dorpe het aanhoudend mense na Jesus toe gestroom, en toe 'n groot menigte saamgekom het, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel:

5“'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Met die saai het 'n deel op die pad geval, en dit is vertrap en die voëls het dit opgepik. 6'n Ander deel het op 'n klipbank geval, en nadat dit opgekom het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. 7Nog 'n ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het daarmee saam gegroei en dit laat verstik. 8Daar was ook 'n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en 'n honderdvoudige oes gelewer.”

Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”

Jesus was ‘n bobaas storieverteller, en Hy het dikwels mense deur gelykenisse geleer onder andere om die vals aantygings wat sy vyande teen Hom kon gebruik, te verhoed. Hulle het probeer om maniere te kry om Hom op grond van sy bewering dat Hy die Seun van God is, wat Hy is, te arresteer en te laat doodmaak. Daarom het Hy sekere dinge weggesteek totdat die regte tyd aangebreek het. (Lees: Lukas 9:21-22)

Jesus het ook gelykenisse gebruik om die waarheid op so ‘n manier te verduidelik dat dit moeilik is om te vergeet as ‘n mense dit eers verstaan. Sy gelykenisse plaas prentjies in ons gedagtes wat tot ‘n beter begrip van die koninkryk lei – en wat ons aanmoedig om uit te vind hoe ons soos kinders van God kan leef.

Die gelykenis van die saaier dwing ‘n mens om na die toestand van jou eie hart te kyk. Alhoewel ons graag aan onsself as goeie grond wil dink, weet die meeste van ons dat die gejaagdheid van die lewe, sowel as die uitdagings wat hartseer en angs bring, ons kan vasvang en van ons geloof beroof.

Tog verseker Jesus ons van die volgende wonderlike waarheid: goeie grond bestaan wel. Dit is asof Hy so ‘n akker goeie grond tussen die rotse en onkruid van hierdie wêreld aan ons uitwys. Jesus se uitdaging kan ook ‘n woord van bemoediging wees wanneer ons die verhaal van verlossing in Christus hoor en daarop reageer. In onverwagte plekke kan God ‘n groot oes van geregtigheid laat groei. Mag al ons harte wees soos die goeie grond, gereed en gewillig om te antwoord op God se Woord.

Gebed: Here, u gelykenisse is dikwels ‘n wekroep vir ons. Lei ons gedagtes en optredes elke dag sodat ons deur u Woord en tot u eer die bes moontlike lewe kan leef. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS