Genade: Vrede op aarde – 29 November 2022
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
JESAJA 9
Een van die mooiste dinge van Advent, as ons dit ernstig opneem, is dat die fokus van elke week ons uiteindelik na Jesus, die rede vir hierdie seisoen, toe lei. Terwyl ons vir die viering van sy geboorte op Kersdag voorberei, ontdek ons deur sy genade die rykheid en wenslikheid van die kwaliteite waaroor ons mediteer, en verstaan dit soveel beter.
Ons is dubbel geseënd omdat Hy ons in staat stel om voordeel te trek uit die groter prentjie van God se perspektief en ook ons eie te verfyn, en deur elke week tyd af te staan om op die verskillende fasette te fokus, help dit ons om nader aan Hom te beweeg.
Vandag se vers is ‘n triomf van genade. Jesaja neem ons op ‘n verbeeldingsvlug, van die klein babatjie in ‘n stal regdeur die reeks verkillende rolle, elkeen belangriker as die vorige – elkeen ontsagwekkend in sy eie reg en definitief werd om oor na te dink – totdat dit die toppunt bereik: Vredevors. Wat ‘n wonderlike verklaring van genade en waarheid!
Jesus is die Vredevors want Hy het gekom na ‘n wêreld wat Hom desperaat nodig het om die mens met God, en ook mense met mekaar, te versoen. Dit kan strek van ‘n basiese stryery en onenigheid in ‘n gesin tot die mees komplekse oorlog in die wêreld wat dreig om lande uitmekaar te skeur.
Vrede is waarvoor die wêreld vra, maar die woordeboekdefinisie vir vrede wat na “kalmte en rus” en “geen oorlog/rusie nie” verwys, is – alhoewel ‘n hoogs begeerlike toestand – nie die ware vrede waarna Jesaja verwys nie. Jesus praat van iets baie dieper: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” (Johannes 14:27)
Vrede gaan oor versoening, om twee opposisiepartye in volkome harmonie bymekaar te bring deur ‘n groter motivering – die herstel van vriendskaplike verhoudings, of ‘n wapenstilstand tussen twee groepe wat met mekaar oorlog maak, soos die geval van die Duitse en Britse magte in Niemandsland op Oukersdag 1914.
In hierdie geval het die grootste motivering – die vier van Kersfees tot eer van God en die boodskap van Lukas 2:14 ” … vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het” – voorkeur bo die oorlog geniet en deur genade tot die aangrypendste wapenstilstand tussen vyande gelei en onder die geklank van “Stille Nag” het die soldate die seën van die Vredevors beleef.
Die soldate het hulle loopgrawe verlaat, oor die versperrings geklim en saam kersliedere gesing. Hulle het stories, tabak en wyn uitgeruil en sommige het sokker gespeel. ‘n Tydelike vrede het geheers totdat hulle beveel is om terug na die loopgrawe te gaan en weer eens as vyande teen mekaar te veg.
Paulus skryf aan die Efesiërs: “Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het.” (Efesiërs 2:14)
Ons kan slegs ware vrede ken, “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan”, (Filippense 4:7) as Jesus in ons harte regeer.
Gebed: Genadevolle Vader, dankie vir u vrede. Gee dat ek “vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig [en] opreg” sal wees en dat dit my “in die regte verhouding met God [sal bring] en [ek] dit [sal] gebruik om vrede te maak.” (Jakobus 3:17-18) Amen