Genade: Koning van alle konings vir ewig – 30 November 2022
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
JESAJA 9
Ons het onlangs na ‘n rugby-uitsending gekyk toe die kommentators begin bespiegel wie as die speler van die wedstryd aangewys sou word. Ek het nie die naam van die persoon wat hulle genoem het herken nie, maar toe ek sy modderbesmeerde, bloedbevlekte gesig sien toe hy die toekenning ontvang, het ek hom dadelik herken en kon sy begeesterde, selfopofferende spel op die veld herroep wat hom vir die toekenning geoormerk het en waarvoor hy sekerlik ook die goedkeuring van baie ander toeskouers geniet het.
Daar is dikwels toekennings vir mense wat omgee. Ons almal hou van ‘n persoon wat optree om deur die manier wat hulle werk ‘n verskil in die lewens van ander te maak. Iemand wat van hulleself gee sonder om die koste te bereken, maar mense soos dit, is egter op alle terreine dikwels eerder die uitsondering.
In hierdie tyd van die geskiedenis sien ons leiers kom en gaan, waarvan baie korrup is en nie omgee vir die mense aan wie hulle verantwoording moet doen nie. Leiers wat eerder afbreek as opbou en groot lyding veroorsaak. Maar almal is bly wanneer ‘n regverdige leier die mag oorneem, iemand wat met integriteit regeer en wat vrede en stabiliteit bring. So ‘n persoon behandel sy mense regverdig en verseker dat die owerheid eerlik is, reg en geregtigheid handhaaf en almal beskerm.
Dan word armes opgehef, die swakkes beskerm en die beskikbaarheid van werksgeleenthede verseker dat daar welvaart is en niemand op straat hoef te wees of honger te ly nie, en almal toegang tot mediese sorg het waarmee hulle gelukkig is.
Dit sal eendag, wanneer Jesus vir ewig regeer, die reël wees en nie die uitsondering nie.
Grootheid, ewigdurende vrede, ‘n vervulde profesie, reg en geregtigheid gevestig, ewigheid, alles sal deur die krag van God bymekaar kom en Jesus sal vir ewig regeer. Daar is baie om Halleluja oor te sing, hoe groot is ons God! Sy grootheid en krag kan nooit oorskat word nie.
Koning Dawid sing voor die ark: “Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, hulle moet onder die nasies verkondig: “Die Here regeer.” (1 Kronieke 16:31) Johannes die apostel wat die laaste boek van die Bybel geskryf het, sluit aan en sê: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.” (Openbaring 11:15)
Die passie en uitbundigheid van Handel se “Halleluja koor” verskaf op ‘n uiters gepaste wyse waardige lof en triomf om Jesus te eer, Jesus, die Gewer van alle genade, die Een wat in ons wêreld regeer. Ons eindig hierdie reeks oor genade met die bekende Halleluja koor:
“King of kings! And Lord of lords!
And He shall reign forever and ever.
Hallelujah! Hallelujah! Hallelujah!
Gebed: Genadige Koning, ons aanbid U en dank U vir u geregtigheid, reg en genade. Gee dat u genade in ons sal leef terwyl ons “hulp en beskerming [en] gedurig [u] teenwoordigheid by [U] soek. (1 Kronieke 16:11) Amen