Bible Society of South Africa

Genade: In die stad van koning Dawid – 28 November 2022

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

JESAJA 9

1Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het 'n lig geskyn.

1 PETRUS 1

2Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.

Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!

1 PETRUS 1:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Petrus se groet of seënbede is gerig aan vervolgde Christene wat “verspreid woon in [vyf] provinsies” (1 Petrus 1:1) en vir hulle geloof gely het. Hy bemoedig hulle deur te sê: “Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is” (1 Petrus 2:9) en hy verduidelik dat, selfs in donker tye, God hulle steeds liefhet en dat hulle sy verlossingsdade moet verkondig.

In Suid-Afrika, waar ons tans ‘n tyd van diepe onsekerheid beleef, is ons baie bewus van die belangrikheid van lig, en het ons ‘n behoefte daaraan dat die lig die probleme wat die donkerte vir ons bring moet belig. Baie van ons wag op ‘n wonderwerk om ons energiekrisis op te los en waardeer enige aanmoediging in die verband.

Tog, is ons nie alleen nie; almal benodig lig. Laat ons nie die “groot lig” vergeet waarna Jesaja verwys nie, ‘n lig veel groter as die energie wat ons gebruik en ver bo die menslike begrip daarvan. Ons almal benodig “die lig vir die wêreld” (Johannes 8:12a) soos Jesus op ‘n keer vir die mense gesê het. Ondanks fisiese duisternis, beloof Hy dat “wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Johannes 8:12b)

Wanneer ons wag op iets belangriks om te gebeur, is daar altyd ‘n mate van kompleksiteit teenwoordig, want ons is óf senuweeagtig óf die afwagting is baie groot – of soms beleef ons beide – wat as dit nie goed bestuur word nie, ‘n negatiewe impak op die verwagte gebeure kan hê. Maar dit is nie die geval met Advent nie.

Advent is eintlik ‘n fees van afwagting, ‘n tyd om te geniet terwyl ons die aanloop tot die langverwagte en belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis vier. ‘n Gebeurtenis van genade, die koms van Jesus, die Messias, van die hemel na die aarde – Hy wat God en Here van almal is. Ons oordink elke belangrike detail van hierdie gebeure en verheug ons daarin!

In hierdie spesiale tyd van die jaar is daar ‘n gees van afwagting in die lug en elke week neem dit toe. Dit strek veel verder as al die blink Kersversierings. Dit is bo alles ‘n tyd om ons geestelik voor te berei vir Kersfees en die koms van Jesus, die Messias, as ‘n baba in ‘n krip in Betlehem.

Laat ons gedurende hierdie vier weke voor Kersfees elke week tyd afstaan om ‘n kers aan te steek en kersliedere saam met ander te sing, maar veral om hierdie spesiale tyd te gebruik om na te dink oor die lig wat Jesus in hierdie wêreld gebring het en wat dit vir ewig verander het. Kom ons oordink elke week hierdie elemente wat Hy vir ons nagelaat het: hoop, vrede, liefde en blydskap.

Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!

Gebed: Allerhoogste, ewige God, laat u lig in hierdie Adventstyd die donkerte van my hart belig. Skenk aan my ware geloof, vaste hoop, volmaakte liefde en diepgaande nederigheid, asook wysheid en die nodige persepsie sodat ek, Here, waarlik u wil sal doen. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS