Genade: Sien genade raak – 10 November 2022
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
MATTEUS 5
God se genade is wonderlik, maar dit is verbasend hoe sy genade dikwels nie raakgesien word deur diegene wat dit dag vir dag, nag vir nag en jaar in en jaar uit ontvang nie. Almal trek voordeel uit God se genadegawes in die skepping en hulle merk dit definitief op as dit nie daar is nie – wanneer daar gedurende ‘n droogte geen reën val nie of geen sonskyn op ‘n koue dag is nie. Tog aanvaar hulle as vanselfsprekend die veelvoudige seëninge van die alledaagse skoonheid en deernis wat hulle ontvang en hoe daar daagliks in hulle behoeftes voorsien word, soms selfs op ‘n buitengewone manier.
Dit het my laat dink aan my kleindogter, net voor haar onlangse derde verjaarsdag. Haar ouers het vir haar ‘n fietsie gekoop wat sy gesien en van gehou het en waarmee sy kleuterskool toe wou ry. Dit het egter ‘n paar weke voor die verjaarsdag gearriveer en is in ‘n kas gesit in afwagting op die groot dag.
Eendag, op soek na ‘n trui het ek dit gevind. Ek het my dogter gevra of sy nie bang is Audie gaan dit kry en so die verrassing bederf nie. “O nee,” het sy gelag, “sy kan nie eers iets kry waarna sy soek al het ek verduidelik presies waar dit is en al is dit reg voor haar nie. Sy sal daardie kasdeur oopmaak en dit glad nie raaksien nie.”
Hoe anders was Jesus nie toe Hy op die aarde was nie. Hy het alles raakgesien.
Hy het met die uitgeworpenes gepraat, vir die armes en die verlorenes omgegee, die siekes genees en dooies opgewek. Hy het oor die genade en vrygewigheid van sy Vader gepraat en mense geleer hoe om tot Hom te bid en die genade van vergifnis en beantwoorde gebede te ervaar. (Matteus 6:9) Hy het die waardes van die koninkryk van die hemel beklemtoon en mense geleer dat hulle “lig so voor die mense [moet] skyn, dat [hulle hulle] goeie werke kan sien en ]hulle] Vader wat in die hemel is, verheerlik [word].” (Matteus 5:16)
Die Amerikaanse skrywer, Philip Yancey, vergelyk Jesus met ‘n buitelandse besoeker wat raaksien wat plaaslike inwoners miskyk. Hy noem dat Jesus oral “genade sien” waar elke skepsel, mens en dier, goed en sleg, verniet voordeel trek uit God se ruim voorsiening vir almal.
Dit is binne hierdie konteks dat Jesus ons leer om ons vyande lief te hê en te bid vir diegene wat ons vervolg “sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel”.
God se voorbeeld van vrygewigheid aan almal is die bloudruk vir sy koninkryk. Sy wens vir ons is dat ons, soos Hy, oor liefde, genade en vergifnis sal beskik en dat ons sy volmaakte kinders sal word en sy volmaakte wil met ware integriteit sal uitleef. “En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matteus 5:47-48)
Gebed: Vader, help my om u genade orals raak te sien en met blydskap elke dag meer en meer soos U te word. Amen