Genade: Genade om te volhard – 11 November 2022
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
GALASIËRS 6
Met die eerste oogopslag kan ‘n mens nie glo dat ‘n speletjie waar ‘n eenvoudige toring met hout blokkies gebou word – drie blokkies per vlak – elke vlak reghoekig met die een bo dit, soveel naelbytspanning kan veroorsaak nie. Maar die uitdaging is vir elke speler om een blokkie per keer enige plek in die toring te verwyder sonder dat dit omval, ie blokkie dan weer bo-op te balanseer en sodoende die toring so hoog moontlik te bou.
Ons het heel vrolik begin en die uitdaging geniet. Maar algaande, soos die toring hoër en hoër geword het, het almal stiller en ernstiger geraak, diep bewus daarvan dat selfs ‘n speletjie konsentrasie en tyd verg om suksesvol te wees. En dit betaal om te volhard. Ons het geduldiger en meer gedissiplineerd geraak, en soos ons gevorder het, het ons begin om die speletjie beter te verstaan. Ons het geleer dat solank die fondasie stewig is, kan ons die toring hoër bou, maar uiteindelik was daar net te veel gate en het dit omgeval.
Gate in enige fondasie is ‘n ernstige saak.
Toe Paulus besef dat die Galasiërs se geloof wankelrig was, het hy hulle gewaarsku dat “God laat nie met Hom spot nie” (Galasiërs 6:7) en hulle aangemoedig om na die waarheid van die evangelie wat Jesus geleer het, terug te keer en in hulle sending te volhard.
Hy het hulle herinner om nie “moeg [te] word om goed te doen nie”, maar eerder op die “akker van die Gees” te saai as op die “akker van [die] sondige natuur”. (Galasiërs 6:8-9)
Jesus het ‘n eenvoudige beeld in Johannes 15 gebruik om sy dissipels te help om te verstaan watter beginsels hulle moes aanvaar sodat hulle kon volhard in hulle geloof en Hom kon volg. Wanneer Jesus sê “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte”, (Johannes 15:5) toon dit dat ‘n dissipel se verhouding met Hom ‘n persoonlike verhouding is. Hulle is afhanklik van Hom net soos die lote deel is van die wingerdstok en daarvan afhanklik is om te kan groei.
Wanneer Hy verder in die vers sê: “want sonder My kan julle niks doen nie”, bedoel Hy dat sy dissipels altyd geestelik met Hom in kontak moet wees om die werk wat Hy aan hulle toevertrou het te kan doen, en terwyl hulle dit doen, baie vrugte tot sy eer te kan dra. Dit sal nie saak maak hoeveel blokke die vyand verwyder nie, hulle fondasie sal stewig bly en hulle sal nie val nie.
Sy genade en hierdie herinnering is ook vir ons. Word jou toring hoër?
Gebed: Here Jesus, dankie dat U u volgelinge opnuut van u genade verseker en dat dit ons in staat stel om, terwyl ons in U, die ware wingerdstok, bly, geduldig te volhard om U te dien. Amen