Bible Society of South Africa

Genade: Abigajil: ‘n vrou se genade – 9 November 2022

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

SPREUKE 31

26As sy praat, is dit met wysheid;

as sy leiding gee, is dit met liefde.

27Sy hou goeie toesig oor haar huishouding;

lui is sy nie.

SPREUKE 31:26-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Lyding is dikwels die katalisator wat genade in ‘n persoon se lewe laat groei want in uitdagende tye gee mense hulle dikwels oor aan God en vertrou op die Heilige Gees vir leiding. Die kerkvader, Augustinus, het gesê: “die doel van genade is om goeie mense te help – nie om noodwendig van hulle lyding te ontsnap nie, maar om dit te dra met ‘n hart vol moed en krag wat in geloof te vind is.” (vrye vertaling)

Hierdie tipe moed was duidelik teenwoordig in die lewe van Abigajil, Nabal se vrou wat later koning Dawid se vrou geword het. ‘n Vrou vervul dikwels ‘n komplekse, komplimentêre rol in die huis. Sy werk hard om die ewewig in die huishouding te behou en sy is gelukkig as sy daarin slaag, maar is selde tevrede dat haar taak afgehandel is.

Abigajil se moed, wilskrag en geloof in God het tot baie genade in haar lewe gelei. Dit het veral ontwikkel tydens haar huwelik met die arrogante, onbeskofte Nabal, van wie sy eie diensknegte gesê het: “En hy is te veel van ‘n skobbejak dat ‘n mens met hom kan praat.” (1 Samuel 25:17, 2020-vertaling) Sy gedrag het op ‘n keer amper sy hele huishouding vernietig weens sy onbeskofte optrede teenoor Dawid, nog voordat laasgenoemde koning geword het.

Dawid, wat op Nabal se grond kamp opgeslaan het en hom gehelp het om sy skaapwagters en skape te beskerm, het hom nou vir kos vir sy manne gevra. Nabal het geweier om sy hulp te erken, inteendeel hy het hom beledig en van hom gesê: “Daar is deesdae baie slawe wat wegloop van hulle eienaars af.” (1 Samuel 25:10). Ten spyte van sy groot rykdom het Nabal geweier om enigiets aan Dawid te gee.

Dawid se reaksie was net so arrogant en oorhaastig as die van Nabal. Sy woedende reaksie op Nabal se belediging was een van vergelding. Hy het 400 gewapende mans bymekaar gekry en uitgetrek om Nabal, en al die mans in sy huishouding te gaan doodmaak. Dawid het nie eers nagedink oor die implikasies om, as gevolg van ‘n belediging, ‘n huishouding te vermoor nie.

Toe die diensknegte Abigajil vertel wat haar man gedoen het, en van Dawid se manskappe gesê het: “solank ons saam met hulle in die veld rondgetrek het, is ons nie kwaad aangedoen nie, en het ons niks vermis nie”, (1 Samuel 25:15) het sy vinnig met begrip en wysheid gereageer en haar Godgegewe gawes gebruik om die situasie te red.

Sy het niks vir haar man gesê nie, maar het gou en ruimhartig ‘n heerlike feesmaal vir Dawid en sy manskappe voorberei en op haar donkie gery om hulle te ontmoet. “Sy het diep gebuig voor hom [Dawid] en gesê: “Verskoon tog die onreg, Meneer! Mag ek vertroulik met u praat? Luister tog na my woorde.” (1 Samuel 25:24) Ons kan ons maar net voorstel watter indruk haar nederigheid op hom gemaak het en hy het haar geantwoord: “Geloof sy die Here die God van Israel wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet. Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag verhinder het om bloed te vergiet … Daarna het Dawid die goed wat sy gebring het, aanvaar en vir haar gesê: “Wees gerus en gaan maar huis toe. Kyk, ek het jou versoek gehoor en ek staan dit toe.” (1 Samuel 25:32-33,35)

God se genade en insig het Abigajil in staat gestel om die gespanne situasie met nederigheid te ontlont. Haar nederige woorde het Dawid laat afsien van sy sending om Nabal te verwoes, en Dawid opnuut laat besef dat God hom geroep het en dat dit sy plig is om Hom te eer.

In Filippense skryf Paulus: “Wees inskiklik teenoor alle mense. … Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Filippense 4:5-6)

Gebed: Vader, mag u genade en vrede “wat alle verstand te bowe gaan, … oor [ons] harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Filippense 4:7) Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS