Genade: ‘n verlore seun en ‘n vader se genade – 2 November 2022
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
LUKAS 15
Die woorde, “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry” sal ‘n gevoel van empatie wek by enige ouer wat al moes toekyk hoe ‘n kind swaarkry, en of dit nou hulle skuld was of nie, die las van hulle pyn gevoel het.
Soms wanneer kinders onwyse keuses maak wat hulle waardes ondermyn en na hartseer lei, is dit nog moeiliker om toe te kyk, alhoewel ons weet dat die ondervinding hulle heel moontlik sal help om wyser te word. Wanneer ‘n kind dan tot sy sinne kom en vol berou terugkeer, is die blydskap groot en word hy deur genade en vergifnis terugverwelkom.
Om dié punt te illustreer het die leiers van ‘n jeuggroep waaraan ek behoort het, ‘n skets van die ontmoeting tussen die pa en sy verlore seun opgevoer. Dit het tot groot vermaak gelei toe die pa en seun in hulle gretigheid en opgewondenheid om mekaar te ontmoet, keer op keer rakelings bymekaar verby gehardloop het. Die gelag van die tieners het slegs bedaar toe die ernstige boodskap van die verlore seun tot hulle deurgedring en hulle gefokus geraak het.
In Jesus se vertelling van hierdie gelykenis word die vader se deernis en genade blootgelê. Die pa verkies om sy eie swaarkry oor dit wat gebeur het te vergeet en sy seun nie te straf nie. Hy kies om sy seun wat vir hom verlore was, te vergeef. Hy is bly dat die seun wat hom verlaat het om sy erfenis te gaan verkwis, vol berou terug huis toe gekom het – suiwer genade!
Ons almal kan identifiseeer met die gevoel van verlorenheid op een of ander stadium, ‘n gevoel van hopeloosheid omdat ons nie weet hoe om dit wat ons verkeerd gedoen het, reg te stel nie. Ons twyfel of ons enige genade sal ontvang. Alhoewel dit moeilik is om te erken dat ons verkeerd is, is dit slegs wanneer ons doen soos die verlore jongman gedoen het en sê: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie’ (Lukas 15:21) dat dit vir ons moontlik is om die genade te ontvang wat al die tyd op ons gewag het, en ons vergewe kan word.
Hierdie aangrypende beeld van die vader wat daagliks die horison dophou om te sien of sy eiesinnige seun nie dalk terugkeer nie, en dan wanneer hy hom sien met groot blydskap hardloop om hom te omhels, is ‘n presiese beeld van God, ons hemelse Vader. Die hopelose situasie van die verlore sondaar word deur ‘n wonderwerk van genade verander wanneer die Vader hom verwelkom en liefde en aanvaarding oor hom uitstort.
“Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.” (Psalm 103:10-11)
God se hart is ryk aan genade; sy ontferming het geen einde nie.
Gebed: Ons Vader, ons is bly dat ons U mag ken, en deur u ryke genade die probleme in ons daaglikse stryd kan oorkom. Amen