Genade: Kollig op genade – 1 November 2022
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
JOHANNES 1
Terwyl ek oor hierdie tema nagedink het, het die titel van ‘n ou liedjie “Love is a many-splendored thing”, by my opgekom. Dit het my laat wonder of genade, soos liefde – die tema van die liedjie – ook in die titel gebruik kon word om die veelsydigheid en grootsheid daarvan te vier.
Ek het die lirieke van die liedjie opgesoek en ontdek dat dié mooi liedjie wat Paul Francis Webster in die vyftigerjare vir ‘n film met dieselfde titel geskryf het, nie reg laat geskied aan die genade, of liefde, wat ek op grond van die titel verwag het nie. In ‘n paar kort stroperige reëls* word gedagtes oor die liefde op ‘n manier beskryf wat nie naby die diepte of egtheid van liefde se ware betekenis kom nie, en heel moontlik word mense wat deur sulke liedjies beïnvloed word, se begrip van liefde onbewustelik daardeur verdraai.
Dit is nie die geval met genade nie. Genade, soos liefde, is in God gewortel en is inherent aan liefde verbind. Omdat genade van liefde in sy edelste en rykste vorm getuig, kan dit nooit oppervlakkig wees nie. Dit kom óf uit oorvloed en bring oorvloedige seën soos vandag se teksvers sê, óf dit is nie genade nie.
Wanneer ons hierdie maand die kollig op die verskillende fasette van genade laat val, sal ons ook die ryk, onontbeerlike seën vier wat dit in elke aspek van ons lewe bring. Oorvloed, seën, vrygewigheid, goedheid, genade en meer genade, beskryf God se manier van gee. Deur sy goedheid stort Hy daagliks liefde oor ons uit, maak vir ons voorsiening en gee om vir sy skepping op planeet aarde, terwyl ons toenemend die ontelbare maniere ontdek waar Hy hierdie besondere skat van genade in ons lewens aan ons bewys.
Dit is merkwaardig dat God ons na sy beeld gemaak het en dat die bloudruk van sy Wese wat ons besit aan ons die kapasiteit tot genade gee. Alhoewel dit nie vir ons as sondige mense maklik is om genade te bewys nie, is dit tog moontlik en is ons ook in staat om dit in ander raak te sien.
Die Bybel is vol van God se onveranderlike liefde en genade. Dit praat van aanvaarding, vergifnis, verlossing en verandering, van onverdiende goedheid en deernis wat aan sondaars en uitgeworpenes bewys word. Sy liefde deur Jesus Christus is egter die toonbeeld van sy genade: “Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.” (Titus 3:4-7)
Almal kan God se goedheid oral om ons waardeer en sy onverdiende guns geniet. Wanneer ons Hom as Here dien, word ons draers van sy genade aan ander.
Gebed: Genadige God en Vader, dankie dat U “ons krag en ons beskerming [is], die Here [wie] genade en eer [gee].” (Psalm 84:12) Help ons om in ons studie hierdie maand genade werklik te verstaan en die goedheid wat U aan almal almal bewys, te vier. Amen