Bible Society of South Africa

Genade: Genade vir ‘n seun wat kwaad is – 3 November 2022

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

LUKAS 15

28“Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom;

Philip Yancey se mening dat genade nie afhanklik is van wat ons vir God doen nie, maar eerder van wat God vir ons gedoen het, mag wel vir die ouer broer in gister se gelykenis op dowe ore geval het. Hy was ‘n pligsgetroue seun, maar hy kon nie verdra hoe sy pa genade aan sy verkwistende jonger broer betoon nie. Die ouer broer se gedrag is ‘n voorbeeld van iemand wat die splinter in sy broer se oog raaksien en die balk in sy eie oog ignoreer. (Lees Matteus 7:5)

Wanneer ‘n kind van mening is dat hy onregverdig behandel word, kan jaloesie en ‘n wrok dikwels hulle gevoelens bepaal. Begrip en deernis vir ‘n broer of suster word dan progressief moeiliker.

Jesus, wat bewus was dat die onderliggende houding van die Fariseërs een van onversetlikheid jeens die “sondaars” van sy dag was, het ook hierdie welbekende gesinsdinamika verstaan. Hy het dit vergelyk met die verskillende dinamika in die koninkryk van God waar vergifnis belangrik is en waar daar ‘n vrygewigheid van gees is. Waar God se genade ondervind word en nie die onsimpatieke houding wat dikwels tussen sibbe van verskillende ouderdomme voorkom nie.

Die ouer broer het duidelik in situasies waar hy gevoel het dat hy onregverdig behandel word, ‘n onsimpatieke ingesteldheid gehad. Hy is woedend wanneer hy sy broer se skandelike optrede met sy eie “regverdige” gedrag vergelyk, en hy beoordeel die genade wat sy vader aan sy broer bewys, in ‘n negatiewe lig. ‘Kyk, al die jare werk ek soos ‘n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ‘n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ‘n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’ (Lukas 15:29-30)

Dit kan moeilik wees om die ouer seun te wees – soms gebuk te gaan onder die gewig van ongevraagde verantwoordelikheid, woedend oor sy broer se gedrag te wees en jaloers te wees oor sy pa deernis aan die broer bewys. Hy is bewus van alles wat hy doen en voel dat hy erkenning en guns van sy pa moet ontvang. Maar sy brutale, onregverdige houding verblind hom vir sy pa se liefde vir en besorgdheid oor hom.

Die pa in gister se gelykenis is, soos God, dieselfde vader vandag en ons ontdek dieselfde vrygewigheid, deernis en genade wanneer hy nou sy ouer seun se woede-uitbarsting ignoreer, en dieselfde geduldige liefde en genade aan hom as aan sy berouvolle jonger seun betoon. Hy probeer hom oortuig wat werklik van waarde is, hy pleit by sy seun om sy hart oop te maak en vir begrip sodat hy ook kan baat by die wonder van genade wat tot sy broer se verlossing gelei het: “Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.’” (Lukas 15:31-32)

God se liefde, soos die van hierdie vader, is vir al sy kinders en Hy maak hierdie wonder van genade moontlik sodat almal gevind kan word – nie deur wat ons doen nie, maar deur sy genade alleen.

“Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Petrus 3:9)

Gebed: Ons Vader, u genade is onmeetbaar. Skenk asseblief aan ons die nodige genade en begrip sodat ons gevind kan word. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS