Bible Society of South Africa

Genade: ‘n Genadereis – 15 November 2022

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

EKSODUS 15

13Deur u trou het U die volk gelei

wat deur U verlos is,

hulle deur u krag gebring na u gewyde land toe.

EKSODUS 15:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al ooit probeer visualiseer oor hoe dit moes gelyk het toe Moses die Israeliete uit Egipte gelei het?

Dit moes ‘n wonderlike gesig gewees het om te sien hoe die menigte mense “ongeveer seshonderdduisend man te voet, afgesien van die afhanklikes” (Eksodus 12:37) aanstap met hulle groot troppe vee en al hulle besittings, selfs die deeg wat nog nie ingesuur was nie is saamgeneem.

Daar was ook baie ander mense wat nie Israeliete was nie, maar verkies het om Egipte saam met hulle te verlaat.

Ten spyte van sy kennis dat die Here altyd by hulle was om die volk te lei, moes Moses waarskynlik by tye gevoel het dat dit ‘n onmoontlike en chaotiese taak was, ‘n surrealistiese ondervinding.

Van die begin af was die hand van God op hulle, selfs wanneer angs en onskekerheid die oorhand gekry het.

God het seker gemaak dat nadat die Egiptenare getref is met die 10 plae wat met die dood van die eersgeborenes geïndig het, die farao bereid sou wees om die volk te laat gaan. Buitendien, “dit was die HERE wat gesorg het dat die Egiptenare die volk goedgesind is, en die Egiptenare het aan hulle eise toegegee. So het hulle buit geneem van die Egiptenare.” (Eksodus 12:36) Dit het verseker dat hierdie menigte mense van die begin af alles gehad het wat hulle benodig het.

As ‘n Vader wat omgee, het God die nag wat hulle getrek het, oor hulle gewaak “om hulle uit Egipteland uit te lei.” (Eksodus 12:36) en daarna het “die HERE bedags in ‘n wolkkolom voor hulle uitgegaan om hulle op die pad te lei, en snags in ‘n vuurkolom om aan hulle lig te verskaf, sodat hulle bedags en snags kon trek. (Eksodus 13:21)

Deur Moses het Hy opdragte aan hulle gegee, strategieë uitgewerk om te verseker dat hulle nie moedeloos raak nie (Eksodus 13:17) en dat hulle van die Egiptenare wat hulle agtervolg het om hulle na Egipte terug te neem, kon ontsnap.

Die woorde van ons teksvers vir vandag kom uit ‘n oorwinningslied wat Moses en Mirjam gesing het tot eer van die HERE wat deur sy genade en sorg hulle suksesvol uit Egipte gelei het. Hy het die Israeliete droogvoets deur die Rietsee gelei en die Egiptiese leër wat hulle agtervolg het, verslaan.

Hierdie wonderlike reis deur die woestyn was een van swaarkry en beproewing waar God Hom deur sy onfeilbare liefde en toewyding aan sy uitverkore volk geopenbaar het.

Kom ons dink vir ‘n oomblik na oor hoe Jesus ons uit “Egipte” lei?

Net soos met die Israeliete, rus God se hand ook op ons wanneer ons bang en onseker is. Hy is dag en nag by ons wanneer ons getoets word tydens ons reis deur die “woestyn”. Maar anders as die Israeliete, beskik ons oor die voorreg dat ons, deur Jesus Christus, reeds vooraf van sy liefde en genade bewus is. Terwyl ons op sy onfeilbare liefde en genade vertrou, leer ons Hom elke dag beter ken en groei ons in ons geloof.

Waar bevind jy jou tans op jou wonderlike reis?

Gebed: “Ek wil U verheerlik, o Koning, my God; ek wil u Naam prys vir altyd en altyd. [U is] genadig en barmhartig geduldig en groot in troue liefde … Wanneer U u hand oopmaak, versadig U al wat lewe met wat hulle wil hê.” (Psalm 145:1,8,16) Ek dank U genadige Vader. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS