Bible Society of South Africa

Genade: Lewendig deur God se genade – 16 November 2022

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

PSALMS 46

2God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming;

Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

Vandag, met die toestemming van ‘n dierbare suster in Christus, Caroline, deel ek haar ervaring van God se wonderbaarlike ingryping in ‘n onlangse lewensgevaarlike voorval wat sy oorleef het. Sy het die gebeure saamgestel met die hulp van haar man en die “engele by die gimnasium” wat haar daardie dag bygestaan het. Sy sê: “Moenie dat enigiemand jou vertel dat dit maar net toeval is dat iemand jou pad kruis nie. By God bestaan daar nie toeval nie – Hy plaas mense in ons lewens omdat dit deel is van sy groter plan vir ons.”

Sy sê dit omdat elke toeval daardie noodlottige dag God se ingryping blyk te wees. ‘n Beplande 5 km-draf is in ‘n besoek aan die gimnasium verander toe haar huishulp haar van die slegte weer vertel het.

Jaco, die bestuurder van Virgin Active in Tableview – en die sleutelpersoon in die resussitasiepogings later die dag – is op pad werk toe deur sy Hoofkantoor geskakel om iemand by Virgin Active Cape Gate te gaan ontmoet.

Toe Jaco daar aankom, was Tristan, die gimnasiumbestuurderes, besig om Caroline te help. Caroline het op die trapmeul gehardloop toe sy op die bewegende belt ineengestort het, gesig na onder. Tristan het probeer om haar te resussiteer met die hulp van ‘n lid van die gimnasium wat vir haar klas opgedaag het, ‘n verpleegsuster met 21 jaar se ondervinding in ‘n trauma-eenheid. Jaco het die beroering gesien, maar omdat hy nie die bestuurder van daardie Virgin Active was nie, wou hy nie inmeng nie.

Maar die Here het Jaco gevra om te gaan help, en omdat hulle gesukkel het, het hy beheer oorgeneem.

Teen die sewende skok het Caroline se hart gaan staan. Jaco het gestop en gebid: ” Here, dit gaan nie oor my nie, neem asseblief oor.”

Hulle het haar nog vyf keer geskok, voordat die paramedici opgedaag het. “My liggaam het in skok gegaan want geen suurstof is deur die hart gepomp nie. My are het platgeval en hulle kon nie eers ‘n aar vind om ‘n drup in te sit nie. Toe hulle my hart weer aan die gang gekry het, is ek geïntubeer,” vertel Caroline.

Caroline was vir ‘n aantal dae in die intensiewesorgeenheid totdat haar liggaam gestabiliseer het, en toe, tot die vreugde van haar gesin en vriende, kon sy huis toe gaan.

“Ek weet dat ek nog hier is om my storie vir die wêreld te vertel, en as ek nie van God se grootheid getuig nie, sal die klippe dit uitroep.”

Sy krag en genade is onbeperk. God het ons lief, Hy ken en verstaan ons. Ons kan saam met Caroline sê: “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”

“Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (Jesaja 41:10)

Gebed: Genadige Vader, dankie dat ons kan sê: “My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” (Psalm 121:2) Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS