Die ewige geskenk van God – die liefde – 31 Oktober 2022
Deur Ewald Schmidt
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
Paulus het in 1 Korintiërs 13:13 gesê daar is drie gawes wat ons deur alle tye heen gaan dra, geloof, hoop en liefde, en die grootste hiervan is die liefde.
In Romeine 8 het ons saam gedink oor die reis wat die Here saam met ons onderneem. Dit het begin met die vryspraak van die Here, waar Hy die oordeel oor dié wat “in Christus” is, weggeneem het. Hy het ons duur gekoop deur sy Seun te stuur om ons te red. Hy het aan ons sy Gees gegee, wat ons sy kinders maak, en ons help om te bid. Ons staan nie meer onder die bestuur van ons ou sondige natuur nie, ons is nuwe mense onder leiding van die Heilige Gees. Hy help ons om te volhard wanneer die lewenspad moeilik raak. En selfs wanneer ons deur tye van lyding gaan, is ons steeds meer as oorwinnaars deur die liefde van die Here.
Hierdie pragtige hoofstuk sluit af met die woorde: God se liefde is vir altyd! Liefde is die taal van die hemel, het 1 Korintiërs 13 ons geleer. Liefde is die wese van God, sê 1 Johannes 4:16-17. Ons is na God se beeld gemaak, ons is gemaak om lief te hê, vir altyd.
Daarom herinner Paulus die oorwinnaars in Christus dat niks kan God se liefde ooit weer keer om sy kind te dra nie. Liefde is baie groter as die dood, dit hou vir altyd. Liefde is groter as die lewe, want Jesus het sy lewe vir ons afgelê omdat Hy ons liefhet. En ons sal dit ook doen vir mense vir wie ons baie lief is. Nie ‘n magtige engel, of ‘n bose demoon kan God se liefde vir my blokkeer nie. Daar is niks nou in hierdie wêreld wat groter as God se liefde vir my is nie, geen ekonomiese of ekologiese krisis, wêreldleier of brandstofprys nie. Daar is niks wat in die toekoms kan opduik wat God se liefde van my sal wegneem nie.
Liefde is groter as enige hoogte, dieper as enige diepte. Daar is niks in God se skepping wat ooit weer sy liefde vir my sal keer nie. Ek leef in verhouding met Hom, ek reis my lewenspad saam met Hom, en Hy sal my vir altyd liefhê. Hierdie liefde is die fondament vir my lewe, veral wanneer ek deur die storms van die tyd geteister word. Liefde lei my na my Vader se huis toe, waar ek vir ewig veilig gaan woon.
Gebed: Here, dankie vir ‘n kosbare hoofstuk in u Woord. Dankie vir elkeen wat saam deur Romeine 8 gereis het hierdie maand. U ken elkeen van hulle, U ken hulle grootste vreugde en hulle diepste nood. Dankie dat niks of niemand u liefde kan keer om u kind te seën en te dra nie. Dankie dat U by ons is, en deur u Gees ons lei, beskerm en bewaar. Amen