Bible Society of South Africa

Geloof en Hoop – 20 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

ROMEINE 8:24-25AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek glo elkeen van ons het al die ervaring van moeilike tye in ons lewe gehad. Ek dink geen mens kan dit vermy om soms groot uitdagings te moet hanteer nie. Wat hou ons staande wanneer sulke storms in die lewe ons tref? Wat maak dat ek sterker anderkant gaan uitkom? Twee belangrike ankers in die storms van die lewe is om te weet wie ek is, en waarheen ek op pad is.

Paulus help ons mooi deur ons te herinner: ons is gered! Ons is nou kinders van God deur geloof, dit is wat die Gees getuig in ons harte. Ons leef in ‘n wêreld wat sug vir God se ingrype om alles nuut te maak. Ons sug ook, ons kry swaar. Maar die mooiste gawe wat die Here ons mee geseën het om te kan volhard deur enige moeilike tyd, is hoop!

Hoop is ‘n woord wat seergekry het in die volksmond. Vir ons het dit ‘n vae moontlikheid geword – ek hoop ek wen die lotto … In sy oorspronklike konteks is hoop die vashou aan die vaste sekerheid van die nuwe toekoms waarheen God met ons op pad is. Ek is God se kind, en my lewensreis se eindbestemming is om saam met my Vader in sy ewige woning te wees. So het Jesus ons in Johannes 14:2 voorberei.

Ek kan nog nie die nuwe more sien aanbreek nie. Maar ek weet dit is op pad wanneer dit nag word. Die aarde gaan om sy as roteer, en verseker gaan die son weer opkom aan die anderkant van die duisternis. Dit is hoop – die dag is op pad, die nag gaan eindig.

Wanneer ons lewe dan voel asof dit nag is, is die oproep in vandag se teks: Byt vas! Volhard! Jy sal die uitkoms sien gebeur!

Winston Churchill het in die donkerste tye van die Tweede Wêreldoorlog gesê: “If you are going through hell, keep on going!”

Geloof herinner my dat ek God se kind in hierdie wêreld is. Hoop verseker my dat my toekoms in die Here veilig is, al is vandag moeilik. Met geloof, en hoop, saam met die grootste gawe, die liefde, sal ons dit maak!

Gebed: Here, dankie dat my identiteit veilig in U is – ek is u kind! Dankie dat daar altyd hoop is, want U lei my, ook deur hierdie moeilike tye heen. My toekoms is verseker, want Jesus leef! Amen.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS