Gebed deur die Gees – 21 Oktober 2022
Deur Ewald Schmidt
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
Daar is een ding wat ek as plattelandse predikant baie dikwels beleef saam met my gemeentelede. Wanneer mense deur tye van groot hartseer gaan, of ‘n krisistyd beleef, dan sukkel hulle om te bid. Dit is dan wanneer mense sê dit voel asof hulle gebede teen die plafon vasslaan. Soms het mense so ‘n dowwe seer in die hart wat dit amper onmoontlik maak om te bid.
Ons het in hierdie reis deur Romeine 8 alreeds gesien dat dit nie ‘n maklike pad is om God se kind te wees nie. Ja, ons het die reg om kinders van God te wees deur geloof. Ons het ‘n wonderlike Vader wat vir ons baie lief is. Maar dit beteken nie dat ons lewenspad net maklik is nie. Goeie mense beleef ook slegte dinge. Hierdie ervarings voel soms vir ons te veel om self te hanteer. Ons weet ons kan daaroor bid, dat God altyd luister. Maar soms is ons woorde weg wanneer ons seer het.
In vandag se teks kom ‘n wonderlike stukkie troos – God weet! Hy weet dat sy kind swak is, en baie afhanklik is van Hom. Wanneer ons dan deur diep water gaan, en ons woorde wegraak as ons probeer bid, dan dra vandag se vers ons deur. Die Heilige Gees weet wat in ons gedagtes leef. In Psalm 139:2 lees ons dat ons God weet wat ons gaan dink nog voordat ons dit dink! Hy, wat die kenner van ons harte is, neem daardie woordlose versugtinge van ons hart, en dra dit na die troon van God toe. Die Heilige Gees bid namens ons! Hy pleit, volgens die wil van God, vir my daar by my Vader se troon.
Dit beteken prakties dat my gebedslewe nie altyd woorde hoef te hê nie. In tye van hartseer of seerkry kan ek maar net in die teenwoordigheid van God gaan rus in my binnekamer. Ek kan maar net stil daar wees. Die Heilige Gees neem dit wat in my hart aangaan, my versugtinge, en maak dit duidelik daar waar dit saakmaak. Daarom is daar soveel keer tekste wat ons bemoedig: “Wees stil, en weet…” (Psalm 46:11) Die pragtige belofte van Jesaja 30:15 help ons: “Julle krag lê in stil wees en vertroue hê …”
Gebed: Heilige Gees, dankie dat U my hart ken. Dankie dat U weet wat ek eintlik vir my Vader in gebed wil sê, selfs wanneer die woorde nie maklik kom nie. Dankie dat ek in u teenwoordigheid mag rus, en mag weet dat U besig is om vir my te bid by die troon van my Vader. Help my om stil in u teenwoordigheid te wees, en te vertrou. Amen