Bible Society of South Africa

Geboortepyne van ‘n nuwe bedeling – 19 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

Die heerlikheid wat kom

18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry.

ROMEINE 8:18-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Mark Twain het met sy boek: “The Prince and the Pauper” ‘n groot tema aangeraak – hoe weet ons wie is regtig in ons midde? ‘n Jong bedelaar met die naam Tom Canty leef in die agterstrate van Londen, en op ‘n dag kruis sy paaie met die kroonprins s’n. Hulle twee kom agter dat hulle baie na mekaar lyk, en besluit om vir ‘n dag rolle om te ruil. Aan die een kant is daar die bedelaarseun se verwondering om soveel weelde te sien, en met soveel ontsag en respek behandel te word. Aan die ander kant is die kroonprins se stryd om oorlewing, wanneer niemand hom herken vir wie hy is nie, en hy met die hardheid van die lewe op straat gekonfronteer word.

Hierdie boek het my van kleins af aangespreek oor my eie posisie in die lewe. Die Heilige Gees het ons oortuig dat ons nou kinders van God is (Romeine 8:17). Maar die wêreld rondom ons weet dit nie vanself nie. Aan die een kant leef ons in verwondering – ons ken nou die Skepper en Onderhouer van die heelal as ons Vader, en ons is elke oomblik welkom by Hom! Maar aan die ander kant leef ons nou in ‘n harde wêreld, en nêrens tel dit punte op ons CV dat ons God se kind is nie. Ons is God se kinders, maar in die wêreld se oë nog in ons bedelaarsklere gehul. Ons is op pad terug na ons Vader se huis toe. Maar die reis is moeilik, soms sug ons van die stryd wat ons in hierdie wêreld stry. Ons het die Gees van God in ons, ons weet dat ons nuwe mense in Christus is. Nou leef ons in hierdie wêreld as sy getuies, en probeer ‘n verskil maak, totdat ons roeping voltooi is. Ons sug, maar ons weet: Eendag sal God ons bedelaarsklere uittrek, en ons herstel na die prins of prinses wat ons reeds in Hom is.

Gebed: Here, dankie dat ek U kind is. Dankie dat ek deur hierdie lewe in Jesus se voetspore volg, totdat ek eendag voor my Vader se troon sal staan. Here, soms sug ek. Soms is die lewe baie moeilik. Gee my krag, geduld en uithouvermoë om enduit gelowig te volhard. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS