Bible Society of South Africa

Mede-erfgename – saam in lyding, saam in heerlikheid – 18 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

ROMEINE 8:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons is deur geloof Koningskinders, prinse en prinsesse van ons hemelse Vader se koninkryk. Party sal sê: “Daarom kan ons nooit siek of arm wees nie. Ons behoort dan net ‘n lewe van voorspoed te hê – God is dan ons Vader!” Maar die harde praktyk van die lewe tref ons gou: ek kry ook soms swaar! Ek word ook siek, al glo ek met my hele hart dat daar deur Jesus se wonde vir my genesing gekom het! Dit bly een van die moeilike vraagstukke: hoekom kan ‘n kind van God nog steeds lyding ervaar? Is dit net wanneer my eie geloof nie sterk genoeg is nie, dat die ou bose my so kan beetkry?

Deur geloof is ons aan ons Here Jesus verbind. Ons is sy dissipels. Sy opdrag was: Volg My! Hy het ons daarop voorberei dat die pad agter Hom aan nou gaan wees. (Lees Matteus 5:14) Ons moet bereid wees om ons eie kruise op te neem om Hom te volg. (Markus 8:34-35) Jesus het ons onder geen illusie gelaat nie – om Hom te volg gaan ‘n moeilike pad wees, ‘n pad van selfverloëning. Soos dit met die Leermeester gaan, so gaan dit met die leerlinge, het Hy gesê.

Ons aardse lewe is ‘n lewe van diens aan God en ons naaste. Dit is ware dissipelskap, in navolging van ons Meester wat bereid was om voete te was. Ons deel in daardie roeping van opoffering van onsself om van die wêreld rondom ons ‘n beter plek te maak. Dit is die hart van dissipelskap. Dit is nie maklik nie. Ons volg daarmee in Jesus se voetspore.

Ons deel in Jesus se lyding. Maar: ons is mede-erfgename, sê Paulus. Vir iemand om te erf, moet iemand anders sterf. Jesus het dit vir ons gedoen – Hy het daardie dood in ons plek aan die kruis gesterf. Die erflating was: kindskap van God, en ewige lewe vir elkeen wat in Jesus se voetspore volg. Die mooi uitsondering: Jesus is die Enigste in die geskiedenis wat weer uit die dood opgestaan het, en daardie erfenis saam met ons geniet!

Sy dood het ons gebroke verhouding met God kom herstel, en die hemelpoorte vir ons oopgemaak. Sy opstanding het vir ons die ewige lewe saam met God kom gee. Omdat ons deur geloof aan sy dood verbind is, sal ons deur geloof ook aan sy opstanding verbind wees. Die heerlikheid wat Hy verdien het deur sy gehoorsaamheid aan die kruis, deel Hy graag met ons. Ons het ‘n wonderlike toekoms om na uit te sien – ‘n ewigheid van God se goedheid, saam met Hom. Dit gee ons hoop wanneer die lewe vandag so moeilik raak. Ek is saam met Jesus op pad, ek mag nou ly, maar my toekoms lê in Hom!

Gebed: Here Jesus, dankie dat ek deur geloof aan U verbind is. Ek deel in u lyding in hierdie wêreld, ek lewe hier en nou as u kind. Dankie dat ek ook aan u opstanding verbind is, dat die dood my nie gaan terughou van my erfenis in U nie! Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS