Dowe geslag – 24 Maart 2022
Deur Xanthe Hancox
Bybelteks(te)
MATTEUS 11
Daar is so baie stemme wat probeer om ons aandag, tyd en geld te kry, dat ons hulle soms net ignoreer. Soms word ons selfs doof vir God se woord en verkies om eerder te fokus op ander dinge wat vir ons meer dringend en belangrik blyk te wees.
In vandag se gelykenis vertel Jesus van kinders wat probeer om ander by hulle spel betrokke te kry. Eers speel hulle dat hulle by ‘n troue is waar party die fluit speel en ander dans. Maar niemand wil saamspeel nie. Dan speel hulle dat hulle by ‘n begrafnis is en hulle sing ‘n treurlied om die atmosfeer van rou te skep. Maar weer eens wil niemand deelneem nie.
Jesus gebruik hierdie gelykenis om sy gehoor te leer dat hulle geslag lusteloos, traag, apaties en onbetrokke is. Johannes die Doper het ‘n sterk boodskap verkondig van die oordeel wat wag, maar min het geluister. Jesus het die skare met wonderwerke en die genade van God verstom, maar die meeste mense het geweier om as dissipels die dans van die koninkryk te dans.
Die geslag van God se volk wat hierdie hoofstuk van die verlossingsgeskiedenis beleef het, wou nie Johannes se boodskap van verlossing of Jesus se boodskap van genade aanvaar nie. Hulle het beide boodskappe verwerp, alhoewel beide van dieselfde waarheid getuig het – Jesus is die Seun van God!
Moet Jesus vandag dieselfde gelykenis vir ons vertel? Is ons so vasgevang in ons eie strewes dat ons nie op die bevordering van God se koninkryk wil fokus nie? Met Jesus se hulp kan ons so ‘n apatiese houding oorkom en fokus op dit wat werklik saak maak.
Gebed: Here, ons hoor u weeklaag. Help ons om in ons alledaagse lewe na u stem te luister. Amen