Bible Society of South Africa

Besluite en aksies – 23 Maart 2022

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

LUKAS 13

Die smal deur

22Terwyl Jesus op pad was Jerusalem toe, het Hy deur stede en dorpe gegaan en oral die mense geleer. 23Toe vra iemand Hom: “Here, is dié wat gered word, maar min?”

24Hy sê vir hulle: “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.

25“As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: ‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal julle antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’

LUKAS 13:22-25AFR83Maak oop in die Bybelleser

Besluite kan lewens verander. En tog, so dikwels is ons besluiteloos en kan nie met iets nuuts begin nie. Ons verval in ‘n lewenspatroon en dit bly dieselfde vir jare. Ons wil nader aan God wees en ‘n verskil in die wêreld maak, maar dit is net so gemaklik en veilig waar ons nou is.

In vandag se gelykenis spreek Jesus presies so ‘n situasie aan. Soos profete doen, gebruik Hy streng taal om mense se aandag te kry. Om ons te motiveer, vertel Jesus gelykenisse oor hoe ons gereed moet wees vir sy koms (lees Lukas 12:35-48) en oor toe deure wat mense van die groot fees van die koninkryk sal weghou.

As jy byvoorbeeld weet dat iemand vannag by jou huis gaan inbreek, wat sal jy doen? Jy sal definitief seker maak dat jy gereed is vir die inbreker.

Net so, as jy weet Jesus gaan binnekort terugkom, sal jy nie oplettend wees en voorbereid bly nie? En Hy sê dat Hy gou weer kom, (Openbaring 22:12,20) so ons moet gereed wees.

Jesus beskryf op ‘n treffende manier diegene wat op die draad bly sit en nooit ‘n besluit neem voordat dit te laat is nie. Maar om Christus op ‘n afstand te ken, is nooit genoeg nie. Hy wil deur die Heilige Gees in ons harte leef. Laat die gelykenisse van Jesus jou aanwakker en aanvuur om, ter wille van God se koninkryk, nuut te dink en doen.

Gebed: Here, bring ons gemoedere in beroering as U moet; ontstel ons as dit nodig is; doen asseblief wat U moet doen om ons aan te spoor om U getrou te dien. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS