Bible Society of South Africa

Hoë risiko, groot beloning – 25 Maart 2022

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

MATTEUS 25

25Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.’

MATTEUS 25:25AFR83Maak oop in die Bybelleser

Of dit nou kriptogeld, aandele of eiendom is, hoë risiko beleggings is vandag algemeen. Maar in antieke Palestina was konserwatiewe, veilige beleggings meer aan die orde van die dag. In ‘n kultuur gebaseer op eer en skande, het die verlies van jou fortuin ook die verlies van jou waardigheid beteken. Ons mag miskien dink dit is dwaas, maar in Jesus se tyd was die wegsteek van jou fortuin in die grond die aanvaarbare manier om dit te bewaar. Maar in die lig van die opbou van die koninkryk van God, daag Jesus daardie manier van denke uit.

Die slaaf wat net een muntstuk ontvang het, het ‘n lang tyd gehad om sy geskenk te gebruik. Ongelukkig het hy sy eienaar as ‘n harde man, eerder as ‘n vrygewige een, beskou. Hy het dus wat hy as “veilig” geag het gekies eerder as om iets, enigiets, met sy geskenk tot eer van God te doen.

Jesus gebruik streng taal wanneer Hy die diensknegte in hierdie storie beoordeel. Hy gebruik woorde soos “goeie en getroue slaaf” of “slegte en ‘n lui slaaf!” Daar is geen derde opsie nie. Óf ons gebruik ons gawes om die koninkryk van die hemele tot eer van God uit te brei, óf ons steek ons gawes weg omdat ons nie regtig die Here wil dien nie.

Dit kan frustrerend wees om as ‘n volgeling van Jesus te leef. Ons wil vir die armes gee, maar ons bekommer ons om kos op ons eie tafel te sit. Ons wil graag mense vergewe, maar daardie selfde mense hou aan om ons te na te kom. Ons wil ons godgegewe vaardighede gebruik om die wêreld ‘n beter plek te maak, maar die wêreld hou aan om meer te vra.

In moeilike tye word selfbehoud vir baie van ons die belangrikste waarde. Maar Jesus herinner ons aan die veiligheid van die koninkryk van God. Gee en jy sal ontvang. Belê jou hulpbronne in koninkryksake en dit sal vermeerder.

Gebed: Vrygewige God, verwyder die begrip selfbehoud uit my gedagtes. Gee dat om in u koninkryk te belê vir my belangriker sal wees as al die bekommernisse van hierdie lewe. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS