Bible Society of South Africa

Doelwitte en voornemens: Liefde – 2 Februarie 2022

Deur Charlea Sieberhagen-Grey

Bybelteks(te)

LUKAS 10

27Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”

Die liefde. Daar word gedurig oor die liefde gesing. Daar word oor die liefde gedig en boeke word oor die kompleksiteit van die liefde geskryf. Almal streef daarna, die hele wêreld smag daarna en meestal voel dit dat ten spyte van die wêreld se obsessie met die liefde, daar steeds nie genoeg liefde in hierdie wêreld van ons is nie.

Hoe ironies.

Tog is dit ook die liefde en veral “liefde vir jou naaste” wat keer op keer in die Bybel beklemtoon word.

Dis ook die eerste “vrug van die Gees”, die eerste eienskap wat in Galasiërs 5:22 beklemtoon word: “Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense…” (Galasiërs 5:22, ABA)

Ons kan dus met redelike sekerheid sê dis God se wil dat ons ander mense liefhet. Boonop moet ons hulle liefhê soos onsself. Dis regtig ’n wonderlike en edele idee. Maar kom ons wees nou maar eerlik, om lief te wees vir vreemdelinge of mense wat jy dalk voel heeltemal anders is as jy, is nie ’n maklike taak nie

Dit is aansielik makliker om lief te wees vir vriende en familie – mense wat soos ons is en by wie ons op een of ander manier aanklank vind, mense wat vir ons iets beteken en dalk ons lewens verryk. Dan kry ons dit wel maklik reg om ons naaste lief te hê soos wat ons vir onsself lief is. (En kyk, mense is deesdae behoorlik lief vir hulself, gaan loer maar net op sosiale media…)

Dis moeilik om lief te wees vir mense wat van ons verskil, mense wat vreemd is en mense wat ons voel ons te na kom. Dit voel eintlik gewoon onmoontlik. Dit kan vir jou dalk voel soos ’n konsep wat gewoon té moeilik is om te begryp, wat nog van uitvoer! En selfs al probeer ’n mens báie báie hard, gaan jy dit seker ook nie net sommerso regkry nie.

Tog kan ek nie help om te dink dat die geheim daarin lê om elke dag te probeer nie.

Jy gaan dalk nie dadelik brandende liefde in jou hart voel nie, maar jy kan probeer om op ’n liefdevolle manier op te tree teenoor die wêreld.

En dít is doenbaar: Om liefde te betoon teenoor ’n vreemdeling of iemand van wie ons nie eers hou nie, deur die manier waarop ons hulle antwoord as hulle iets vra of iets sê waarmee ons nie saamstem nie, die manier waarop ons groet, die manier waarop ons reageer as ons in ’n ongemaklike of selfs uitdagende situasie is. Ons kan probeer om met liefde en respek op te tree en seker te maak ons gedrag wys dat ons Jesus se liefde probeer uitleef.

En ek wonder of dit nie dalk ’n sinvolle eerste tree is nie? As ons dit só aanpak, een liefdevolle tree op ’n slag, wie weet waarheen die paadjie gaan lei?

Gebed: Liewe Here, ons hoor oor en oor in u Woord dat ons ons naaste moet liefhê. Tog is dit gewoonlik ’n moeilike opdrag. Help ons, liewe Vader, om met ons dade liefde te betoon, maak nie saak wie dit is met wie ons te make het nie. Laat u liefde daagliks in ons optrede sigbaar wees. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS